Leesplan inligting

Advent BewonderingVoorbeeld

Advent Adoration by Vertical Worship

DAG 4 VAN 4



Vreugde. 


Daar is geen vreugde soos die vreugde van ontdekking nie. 


“Ek het hierdie nuwe restaurant ontdek!” 


“Ek het hierdie nuwe TV program ontdek!”


“Ek het hierdie nuwe sanggroep ontdek!”


“Ek het so pas ontdek ek het ekstra vakansietyd!” 


“Ek het nou net uitgevind ek het 'n ryk familielid wat miljoene rande aan my bemaak het!”



Vreugde is heel moontlik die diepste, mees algemene motiveerder vir alle mense, te alle tye. Ons doen baie moeite om vreugde en geluk te verkry. Wanneer jy iets regtig wonderlik ontdek, kan jy dit nie verhelp om daarop te reageer nie. Dis asof dit iets uit jou uit haal. Daardie oomblik van ontdekking, daardie spontane gewaarwording van genot oor iets wat waarlik goed is — dis vreugde. 



Ons mis so dikwels ons geleentheid om vreugde te ervaar as gevolg van een ding: vrees. 



Die Kersverhaal gaan oor iets wat werklik wonderlik is en wat gebeur as ons die Woord van God vertrou, ten spyte van ons vrese: ons ontdek vreugde en daardie vreugde bring lofprysing na vore.  



Lukas 2:8


"Daar was skaapwagters in daardie omgewing wat in die oop veld gebly en in die nag oor hulle skape wag gehou het.” 



Die skaapwagters was van die eerste mense wat die goeie nuus gehoor het. Hulle was nie spesiaal nie. Hulle was besig om te werk. Dit was 'n alledaagse toneel. Hierdie besonderhede is belangrik. 



God kom na jou toe waar jy is. Hy vra nie dat jy deftig aantrek nie. Hy gee nie vir jou 'n adres aan die anderkant van die wêreld waar jy Hom kan vind nie. Hy vind jou. Hy kom juis na die onwaarskynlikste plek.



En wanneer Hy kom, sal jy dit weet. 



Lukas 2:9


“Meteens staan daar 'n engel van die Here by hulle, en die heerlikheid van die Here het rondom hulle geskyn. Hulle het baie groot geskrik.”



Daar is geen twyfel as jy in die teenwoordigheid van God is nie. Daar gaan egter iets met hierdie toestand gepaard: vrees. Daar is 'n noue verband tussen God se heerlikheid en die mens se vrees.  



Ons probeer, met goeie rede, vrees vermy. Wie hou daarvan om bang te wees? Tog het ons teensin vir vrees, 'n onbeplande gevolg. 



Ons teensin vir vrees het ons doof gemaak vir die boodskap wat net deur middel van ons vrees hoorbaar word. Ons vermy ons vrees, maar daardeur mis ons vreugde. 



Lukas 2:10a


“Toe sê die engel vir hulle: 'Moenie bang wees nie, …'”


Vrees hou ons paraat. Ons raak bewus van die oomblik. Dis soos om 'n vreemde geluid te hoor wanneer jy dit die minste verwag. Skielik luister jy aandagtig. 



Ons probeer so dikwels om van ons vrese af weg te hardloop, of ons om elke moontlikheid daarvan te voorsien en om elke moontlike uitkoms te beheer, sodat ons ons vrese so ver moontlik kan verminder. Wat as God juis vir ons hierdie vrese gee om ons paraat te hou en te help om na Hom te luister? 



Wanneer ons wél te midde van ons vrese na God luister, is die boodskap wonderlik: moenie bang wees nie. 



Lukas 2:10b


“… want kyk, ek bring vir julle 'n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is.”



Vreugde is nie net daar wanneer ons niks te vrees het nie — vreugde is wanneer daardie een groot wens waar word. 



Kyk! Daar is goeie nuus waarvan jy moet getuig! Wanneer jy dit doen, sal dit aan jou vreugde bring! 



Lukas 2:11


“Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here!"  



Kyk, God is hier. Hy het gekom om julle vir altyd te red. Hy het gekom om sy belofte na te kom. Die bose se tyd is amper verby. Kommer sal verdwyn. Geregtigheid sal uiteindelik kom. Daar sal geen vrees meer wees nie. Wanneer jy dit vergeet, sal Hy jou daaraan herinner. Jy hoef niks te verduidelik nie. Jy hoef nie vir jou sonde te betaal nie. Dit wat jy jou hele lewe lank al wou hoor, is gesê.


Die groot vreugde van die wêreld is hier. 


Dit lyk egter anders as wat jy dalk verwag het. 


Lukas 2:12


“En dit is vir julle die teken: julle sal 'n kindjie vind wat in doeke toegedraai is en in 'n krip lê.”



Dis nie in 'n paleis nie. 


Dis nie uitspattig nie. 


Dis nie 'n vertoonvenster van Queen's Park nie. 


Dit gaan nie oor 'n groter huis of 'n deftiger motor nie. 


Dis nie leë beloftes van rykdom nie.


Dis nie die sogenaamde ideale lewe van die rykes en beroemdes nie. 


Dis nie eens in jou halfgebakte pogings om 'n beter persoon te wees nie.


Dit is klein en maklik om te mis. 


Dit is in die mees onwaarskynlike plek versteek. 


Daar, in die krip, lê al die vreugde waarvoor jy ooit kon hoop. 



Lukas 2:15-16


"Nadat die engele van hulle af weggegaan het na die hemel toe, sê die skaapwagters vir mekaar: 'Kom ons gaan reguit Betlehem toe om te sien wat gebeur het, soos die Here dit aan ons bekend gemaak het.' Hulle gaan toe haastig daarheen en kry vir Maria en Josef, en die Kindjie wat in die krip lê." 



Nadat hulle hierdie besluit geneem het, het die herders 'n risiko geneem. Hulle het iets gewaag ná hierdie nuus. 


Dis hier waar dit vir ons moeilik word. 



Moderne verpakking speel die hele tyd met ons begeerte vir vreugde. Ons gedagtes is besoedel met valse beloftes. "Volg hierdie neiging, hierdie verhouding, hierdie loopbaan, koop hierdie foon, volg hierdie politieke leier, hierdie nuwe manier van kinders grootmaak … en jy sal vreugde hê!" 



Dus volg ons die tendense. Elke keer belê ons in 'n te klein belofte en is teleurgesteld. Ons spandeer 'n fortuin vir 'n klein wins. Ons werk om ons politieke leier in die regering te kry en na 'n rukkie voel ons nog steeds iets skort. Geen wonder dat dit is so moeilik is om die goeie nuus te hoor nie. Geen wonder ons is skepties nie. 



Ons hoef nie oor God skepties te wees nie. Sy woord sal ons nie in die steek laat nie. Sy woord is "goeie nuus van groot blydskap." Dit is nuus aangaande 'n gebeurtenis. 



Wanneer ons ons lewens ter wille van hierdie goeie nuus op die spel plaas, hierdie wonderlike ontdekking, vind ons groot blydskap. Hierdie blydskap bring iets in ons na vore: lofprysing. 



Lukas 2:20


"Die skaapwagters het toe teruggegaan terwyl hulle God loof en prys oor alles wat hulle gehoor en gesien het. Dit was alles net soos dit vir hulle gesê is."



Vreugde gaan altyd lofprysing vooruit. Selfs met kleiner vreugdes, soos 'n goeie maaltyd, kan jy nie help om aan jou vreugde uiting te gee nie. "Mmmm! Dit smaak heerlik!" Hoeveel te meer sal hierdie uiteindelike vreugde lofprysing by ons uitlok? 



Moenie hierdie Kersfees bang wees om God op sy woord te neem net daar waar jy is nie, te midde van jou vrese. Luister na hierdie goeie nuus en ontdek jou groot vreugde! Neem daardie risiko en waag alles daarvoor. 



Jy sal nie in die steek gelaat word nie. In jou vreugde sal jy uit jou nate bars met lofprysing. 



...


Gebed:


God, al is ek bang, help my om U op u woord te neem. Help my om vreugde te ontdek. 



Aktiwiteit: 


Maak 'n lys van dit waarop jy te veel in te min belê het. Vra God om jou te help om aktief te luister na hierdie goeie nuus en nie bang te wees nie.


——————————


Dag 3

Aangaande hierdie leesplan

Advent Adoration by Vertical Worship

Hoop, liefde, vrede, vreugde. Hierdie woorde word baie gedurende die vakansietyd gebruik, maar onthou ons hoekom? Die Kersverhaal is die verhaal van hoe God deur die geboorte van Jesus in die geskiedenis ingegryp het. Di...

More

Baie dankie aan Jon Guerra van Vertical Worship en Essential Worship wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting besoek asseblief: https/www.verticalofficial.com/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid