Leesplan inligting

Advent BewonderingVoorbeeld

Advent Adoration by Vertical Worship

DAG 3 VAN 4


Vrede. 



Die Hebreeuse woord vir vrede is "shalom". Dit beteken: "om veilig te wees, gesond, perfek, volledig, kom niks kort nie." Shalom beklemtoon die teenwoordigheid van welstand en harmonie, beide van binne en van buite. Dit beklemtoon ook die afwesigheid van angs of spanning. Bybels is dit 'n toekoms-georiënteerde woord.



'n Mens sou dink die geboorte van die Prins van "shalom" moes vreedsaam gewees het. 


'n Mens sou dit dink. 



Matteus 1:18-20 


"Hier volg nou die geskiedenis van die geboorte van Jesus Christus. Toe sy moeder Maria nog aan Josef verloof was, het dit geblyk dat sy swanger is sonder dat hulle gemeenskap gehad het. Die swangerskap het van die Heilige Gees gekom. Haar verloofde, Josef, wat aan die wet van Moses getrou was maar haar tog nie in die openbaar tot skande wou maak nie, het hom voorgeneem om die verlowing stilweg te verbreek." 



Ons weet baie min van Josef, die aardse vader van Jesus. Hy was 'n skrynwerker en 'n uitstaande ambagsman wat met sy hande gewerk het. Hy was nie akademies aangelê nie, was nie 'n besigheidsman nie en ook nie 'n priester nie. Hy was 'n "eerlike dag se werk vir 'n eerlike dag se loon" soort van ou. 



Toe sy verloofde swanger raak (deur die Heilige Gees, maar hy het dit nog nie geweet nie), is sy reaksie voorbeeldig. Ten spyte van wat waarskynlik 'n diep seerkry moes wees, is hy "onwillig om haar in die skande te steek" en besluit om die situasie stil te hanteer, sonder bohaai. Hy wil haar beskerm teen die skande wat hy geweet het sou kom. Josef is besadig en hy betaal wat hy vermoed kwaad is, met die goeie. Met ander woorde, hy is 'n goeie man. 


Teen hierdie tyd in die verhaal, het hy beslis nie vrede nie. 



Matteus 1:20a


"Terwyl hy dit in gedagte gehad het, het daar 'n engel van die Here in 'n droom aan hom verskyn ..."



Josef "oorweeg hierdie dinge" tot diep in die nag. Selfs sy drome word deur die omstandighede oorheers. Hy is midde in 'n spanningsvolle droom toe daar 'n engel met 'n opdrag in sy droom verskyn. 



Matteus 1:20b-23


"'... Josef seun van Dawid, moenie bang wees om met Maria te trou nie, want wat in haar verwek is, kom van die Heilige Gees. Sy sal 'n Seun in die wêreld bring, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos.' Dit het alles gebeur sodat die woord wat die Here deur sy profeet gesê het, vervul sou word: 'Die maagd sal swanger word en 'n Seun in die wêreld bring en hulle sal Hom Immanuel noem.'”



Dit is opvallend hoe dikwels engele in die verhaal van Jesus se geboorte voorkom. Hulle kom in 'n verbysterende glans en is bekend daarvoor om "goeie nuus van groot blydskap" te bring! Alhoewel hierdie nuus inderdaad goed is, is die uitwerking daarvan vir Josef op daardie stadium moeilik. 



Josef gaan voort met die huwelik. Maria en haar seun is baie belangrik. Sy is die een van wie die profeet getuig het. Jesus sal mense red van hulle sonde. Dit is reuse doelwitte. 



Maar wat van Josef? Interessant genoeg, is daar niks verder oor sy eie lewe, sy eie invloed nie. Dit is asof sy nalatenskap verweef is in die lewe van hierdie twee: die maagd en haar seun. 



"Moenie 'n held wees nie." — Ek kan my voorstel dat sy vriende so gesê het. "Dit was net 'n lawwe droom." 



Matteus 1:24-25


"Toe Josef uit die slaap wakker word, het hy gemaak soos die engel van die Here hom beveel het en met haar getrou. Hy het egter nie met haar omgang gehad voordat sy haar Seun in die wêreld gebring het nie. En Josef het Hom Jesus genoem."



God beveel Josef om iets te doen, en hy is van plan om dit te doen. Deur ongemak, beproewing, angs, uitdagings en skande (lees: onvrede), sal hy die Prins van Vrede grootmaak. 



As ek Josef was, sou ek 'n paar vrae gehad het. Josef vra egter niks nie. Hy vertrou God en hy is gehoorsaam. 



Om die waarheid te sê, van al die karakters in die vroeë deel van Jesus se lewe, kry Josef die meeste aandag van hemelse boodskappers. Herhaaldelik daag engele op met 'n moeilike opdrag. Herhaaldelik vertrou Josef en is hy gehoorsaam. Kyk self …



Matteus 2:13-14


"Nadat hulle vertrek het, het daar 'n engel van die Here in 'n droom aan Josef verskyn en gesê: 'Staan op, neem die Kindjie en sy moeder en vlug na Egipte toe en bly daar totdat ek jou sê om terug te kom, want Herodes is van plan om die Kindjie te soek en Hom dood te maak.' Josef het toe opgestaan en in die nag die Kindjie en sy moeder geneem en na Egipte toe vertrek." 



Matteus 2:19-21


"Na die dood van Herodes, verskyn daar 'n engel van die Here in 'n droom aan Josef in Egipte en sê: 'Staan op, neem die Kindjie en sy moeder en gaan terug na die land van Israel toe, want die mense wat die Kindjie se lewe gesoek het, is dood.' Josef het toe opgestaan, die Kindjie en sy moeder geneem en na die land van Israel toe teruggegaan." 



Ons probeer so hard om ons eie invloed te beheer, ons eie nalatenskap, ons eie vrede. Soveel angs, soveel spanning, so min vrede kom daarvan om te probeer om iets van ewigheidswaarde uit vleeslike krag te bewerkstellig. God vra ons nie om die see te verdeel nie, maar om daardeur te loop. God het nie vir Josef gevra om sy huwelik en gesin aan die wêreld te verduidelik nie — hy het vir Josef gevra om te vertrou en gehoorsaam te wees. 



Vertroue en gehoorsaamheid is hoe ons God sy beloftes in vervulling laat kom. Deur dit te doen, soos Josef het, verkry ons vrede. 



Filippense 3:13-14; 4:7


"Broers, ek verbeel my nie dat ek dit alles al het nie. Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is. Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus."



Besluit hierdie Kersfees om jou nalatenskap aan God toe te vertrou en soos Josef, jou nalatenskap met die Prins van Vrede te verbind. 



...


Gebed:


Vader gee my u vrede. Help my om U te vertrou en aan U gehoorsaam te wees.


Oordink:


Op watter maniere het jy probeer om besluite van ewigheidswaarde met vleeslike krag te verrig? 


Wat is sommige areas waarin God jou roep om Hom te vertrou en te gehoorsaam, selfs wanneer dit moeilik is? 


Dag 2Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

Advent Adoration by Vertical Worship

Hoop, liefde, vrede, vreugde. Hierdie woorde word baie gedurende die vakansietyd gebruik, maar onthou ons hoekom? Die Kersverhaal is die verhaal van hoe God deur die geboorte van Jesus in die geskiedenis ingegryp het. Di...

More

Baie dankie aan Jon Guerra van Vertical Worship en Essential Worship wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting besoek asseblief: https/www.verticalofficial.com/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid