Leesplan inligting

Kaalvoet Op Heilige GrondVoorbeeld

Kaalvoet Op Heilige Grond

DAG 1 VAN 6

1 Kaalvoet-ontmoetings

Kan dit wees dat Moses oor sy lewe van 40 jaar vantevore besin het, as ons na Eksodus 3 kyk? Moses het ‘n baie goeie lewe gehad. Hy was die prins van Egipte, hoogs geleerd, slawe en diensknegte was tot sy beskikking, geld en hulpbronne was geen probleem nie. Die passie wat egter in sy hart gebrand het, 'n passie om sy volk uit slawerny te bevry, het sy lewe in 'n heel ander rigting gestuur. Hy het 'n Egiptiese slawedrywer, wat 'n Joodse slaaf geslaan het, doodgemaak. Toe die Farao daarvan te hore kom, moes Moses vir sy lewe vlug.

God gebruik egter nooit die Satan se beginsels of metodes om sy wil te laat geskied nie.

Dalk het Moses daardie dag in die woestyn vir 'n tweede kans gebid. Dalk was daar berou en spyt in sy hart omdat hy God se wil in sy eie hande probeer neem het. Terwyl hy so dink, vang sy oog 'n bos wat brand. Hierdie vuur het nie uitgebrand nie; die bos het aanhoudend gebrand! Nuuskierig en versigtig het Moses nader gestap.

God weet hoe om jou aandag te kry.

Terwyl Moses nuuskierig nader stap, roep God hom op sy naam: “‘Moenie nog nader kom nie,’ het die Here vir hom gesê. ‘Trek uit jou sandale. Die plek waarop jy staan, is heilige grond’” (Eksodus 3:5 NLV).

Heilig beteken om afgesonder te wees vir die alleengebruik van God. Om dus op heilige grond te staan, is om ja te sê vir sy roeping, sy wil, en sy plan vir jou lewe.

Om jou skoene uit te trek, beteken om van alles ontslae te raak wat jou kan skei van die heilige grond waarop jy staan! Waarvan moet jy ontslae raak om ten volle op daardie heilige grond te kan staan? Is dit vrees en angs? Is dit ongehoorsaamheid en 'n traak-my-nie-agtige-houding? Is dit selfsug en trots? Is dit twyfel?

Kaalvoet-aanbidding is om jou volkome en onvoorwaardelike ja! aan Hom te gee. Dit is om keer op keer te sê: "Hier is ek! Laat U wil in my geskied!"

Kaalvoet-aanbidding is om van aangesig tot aangesig voor die lewende God te staan, ontslae te raak van die skoene wat skeiding maak. Om Hom ten volle met alles wat jy het, te volg – met jou hele hart die roeping, die wil en die doel wat Hy vooraf vir jou beplan het, te omhels. Dit is om ja! te sê vir die lewe wat Hy vir jou beplan het. Dis om ja! te sê vir die grootste avontuur waarvan jy ooit kan droom!

Toe vra Moses Hom oor sy Naam, en God antwoord: “EK IS WIE EK IS” (Eksodus 3:14). Sê vir hulle, Moses, dat Ek alles sal wees wat hulle ooit nodig sal hê om my wil te doen, om my roeping uit te leef en om my doel te vervul! Sê vir hulle dat hulle niks sal kortkom nie. Sê vir hulle dat Ek alles sal wees wat hulle ooit mag nodig hê.

Deur sy naam aan Moses bekend te maak, het God vir hom gesê: “Ek het alles onder beheer, Moses! Jy sal niks kortkom wanneer jy aan My roeping gehoorsaam is nie.”

Hudson Taylor het gesê: “Die man (of vrou) van God, in God se plek, besig met God se wil, op God se manier, sal nooit God se ondersteuning ontbreek nie!”

Dag 2

Aangaande hierdie leesplan

Kaalvoet Op Heilige Grond

'N VUUR WAT AANHOU BRAND. Dit is die wyse waarop God Homself aan Moses openbaar het. God betrek mense by wat Hy beplan en doen. Hy het uitgereik na Moses wat, soos ek en jy, by 'n vorige geleentheid die stokkie laat val...

More

Ons wil graag Barefoot Ministries bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://bit.ly/4bUhya8

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid