Leesplan inligting

Dis Tyd!Voorbeeld

Dis Tyd!

DAG 5 VAN 7

DAG 5 Tuinwandeling

Psalm 23:2: “Hy laat my rus in groen weivelde. Hy bring my by waters waar daar vrede is."

Om die leisels van ons lewens vir die groot Tuinier oor te gee, kan uitdagend wees, veral as jy daarvan hou om in beheer te wees.

In my lewenstuin het daar al pragtige blomme gegroei. Daar was ook ‘n paar groen onkruide met eenvoudige geel bloeisels op 'n grondpaadjie na links. Ek het al vasgesteek by ‘n paar brandrissie-situasies en ervaar dat dit baie meer lonend is om eerder genade te betoon. Ek het gesien hoe versoening ‘n harde kokosneutkop oopkraak en ryk voedsame melk daaruit vloei. Daar was ook ‘n mooi, rooi granaatvriendskap wat later in 'n pynlike turksvy-met-skil verander het.

Ek het al baie gehuil oor dinge wat ek weet ek nie op my eie kan verander nie, maar die Heilige Gees het elke keer sy opwagting gemaak. Ek kyk op na die blou tooisel bo my tuin en ek sien skoon, wye ooptes — so wyd soos die Heer se genade en dit strek tot by 31 Desember … en al die dae daarna!

Alles kom volmaak bymekaar: wat het met jou gebeur tot nou?

Dalk het jy iets nuut geleer, iemand beter leer ken of gegroei in jou werk of sport. Dalk het jy pyn as gevolg van siekte of verlies beleef of miskien het jy in slegte gewoontes verval.

Onvoorspelbaar… dis elke dag se uitdaging. Tog is ontkieming van goeie saad nie sigbaar totdat water jou stukkie (lewens)grond deurdrenk nie. Om te sit by daardie waters van rus is ‘n kosbare belegging.

Here, help my om saadjies van vrede en vooruitsig asook van vergifnis te plant terwyl U saam met my wandel deur my tuin. Rig my om beide die groen en die vaal te waardeer terwyl ek die een voet voor die ander sit saam met U.

Mag jy terugkyk na jou tuin tot dusver en die gissende, vrot pruime en verbruinde piesangskille raaksien as bemesting tot ‘n “groener jy”. Vra die Here om sy lewenswater deur jou te laat vloei. Doen dit nou! Vra Hom!

Dag 4Dag 6

Aangaande hierdie leesplan

Dis Tyd!

Die lewe bied talle uitdagings wat 'n mens nie aldag verstaan nie. Maar om heeltyd daarop te fokus, is nie gesond nie. Ons kan vorentoe beweeg, tree vir tree - dis tyd!

Ons wil graag Felicia Lategan bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://whitevapor.wordpress.com/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid