Leesplan inligting

Dis Tyd!Voorbeeld

Dis Tyd!

DAG 3 VAN 7

DAG 3 Oorwinning betyds

Jesaja 25:9 AFR53: “En julle sal in die dag sê: kyk, dit is onse God op wie ons gewag het, dat Hy ons kan verlos; dit is die Here op wie ons gewag het, laat ons juig en bly wees."

Is jy geneig om jou vuiste te bal wanneer jy jou hoop op iets of iemand geplaas het en teleurgestel word? Hoeveel keer verwag ons ‘n wonderwerk, maar ons is swaarmoedig? Ons tel die dae van kastyding en vertel graag van ons eie Via Dolorosa. Ons behoort eerder te sê: “Ek is vandag nog een dag nader aan oorwinning — een groot tree vórentoe saam met God wat sy lewe vir my gegee het."

Dit is 'n uitdaging om optimisties te bly en elke dag die wêreld stralend en glimlaggend in te stap as donker wolke oor jou hang. Jesus self was, met baie goeie rede, gedurende die laaste ure voor sy kruisiging bedroef en bevrees. Die voorhangsel in die tempel het in twee geskeur en die aarde was gehul in duisternis. 'n Mens kan jou géénsins vereenselwig met Jesus se situasie nie, maar wel met die gevoel van donkerte in jou lewe. Jesus het op ‘n baie wrede manier gesterf. Ek en jy “sterf” soms rondom ander dinge wat ‘n impak op ons lewens het. God is nooit te laat nie. Daar is oorwinning na jou eie “kruis”.

God se tydsberekening is altyd perfek. Moet tog nie jou hoop en geloof op die ashoop gooi nie. Wanneer môre kom, is sy genade reeds daar.

Here, ek voel baie keer verlate in donker tye, maar U weet elke uur van elke asemteug van my. Ek het u leiding en genade baie nodig. Help my om my fokus op U te behou.

In die boek Jesaja sal jy heelwat oor God se grootheid, almag en heiligheid lees. Bederf jou gees en denke deur meer en dieper te delf. God se Woord is juis ons kompas na oorwinning.

Dag 2Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

Dis Tyd!

Die lewe bied talle uitdagings wat 'n mens nie aldag verstaan nie. Maar om heeltyd daarop te fokus, is nie gesond nie. Ons kan vorentoe beweeg, tree vir tree - dis tyd!

Ons wil graag Felicia Lategan bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://whitevapor.wordpress.com/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid