Leesplan inligting

Bybel Vir KindersVoorbeeld

Bybel Vir Kinders

DAG 1 VAN 8




Wie het ons gemaak? Die Bybel, God se Woord, vertel ons hoe die menslike lewe begin het. Lank gelede het God die eerste man gemaak en hom Adam genoem. God het Adam uit die stof van die aarde gemaak. Toe God asem in Adam ingeblaas het, het Adam lewendig geword. Toe Adam lewend geword het, was hy in die mooi tuin van Eden.

Voor God vir Adam gemaak het, het Hy eers die wêreld gemaak met al die wonderlike dinge daarin. Stap vir stap het God die berge gemaak, die woude, die blomme wat lekker ruik, en die groot bome, die mooi gekleurde voëls, die bye wat zoem, die walvisse en die slakke. God het alles gemaak wat op die aarde is – ALLES!

Heel in die begin, voor God enige iets gemaak het, was daar niks nie, net God. Geen mense, geen dinge of plekke nie. Niks. Geen lig, net donkerte. Geen op of af, geen môre. Net God, wat geen begin of einde het nie, was daar. Toe het God besluit om iets te doen!

In die begin het God die hemel en die aarde gemaak.

Die aarde was woes en leeg. En daar was donkerte op die wêreldvloed. Toe het God gesê: “Laat daar lig wees.”

En daar was lig. God het die lig dag genoem en die donkerte het Hy nag genoem. Dit was aand en môre, die eerste dag.

Op die tweede dag het God die waters van die oseane, see en mere op hulle plek op die aarde gesit. Op die derde dag het God gesê: “Laat die droë land verskyn.” En dit het so gebeur.

God het ook die gras en die blomme en die struike en die bome beveel om te groei op die aarde. En dit was aand en môre, die derde dag.

Toe het God die son en die maan en die sterre, wat niemand kan tel nie, gemaak. En dit was aand en môre, die vierde dag.

Seediere en visse en voëls was volgende op die lys. Op die vyfde dag het Hy die die groot swaardvis, die klein sardientjies en die lang-been volstruis gemaak en ook die suikerbekkies. God het elke soort vis en voël gemaak.

Daarna het God gesê: “Laat die aarde vol lewende diere word.. ” Alle soorte diere, insekte, reptiele, olifante, bewers, apies en krokodille is gemaak. God het ook die wurms, die nagapies, kameelperde, katte en honde en elke soort dier waaraan jy kan dink, op daardie dag gemaak. Dit was aand en môre, die sesde dag.

God het iets anders ook op die sesde dag gemaak, iets baie spesiaal. Alles was nou gereed vir die mens. Daar was kos in die veld en diere wat die mens kon dien. God het gesê: “Kom ons maak ‘n mens na ons beeld, sodat hy kan heers oor alles wat op die aarde is.” EN GOD HET DIE MENS GESKAPE NA SY BEELD; NA DIE BEELD VAN GOD HET HY HOM GESKAPE.

God het vir Adam gesê. “Jy kan van alles in die tuin eet. Maar jy mag nie van die boom van kennis van goed en kwaad eet nie. Want as jy van daardie boom eet, sal jy sekerlik doodgaan.”

En God het gesê: “Dit is nie goed vir die mens om alleen te wees nie. Ek sal vir hom ‘n maat maak wat by hom pas.” God het al die voëls en die diere na Adam gebring. Adam het vir hulle almal name gegee. Hy moes baie slim gewees het om dit te kon doen. Maar tussen al die diere was daar nie een wat reg was vir Adam vir ‘n maat nie.

God het Adam in ‘n diep slaap laat val. Toe het Hy een van Adam se ribbes uitgehaal terwyl hy geslaap het. God het ‘n vrou uit Adam se ribbebeen gevorm. Die vrou wat God gemaak het, was presies reg om Adam se maat te wees.

God het dit alles op die sesde dag gemaak. Toe het Hy die sewende dag geseën en dit geheilig en dit ‘n dag van rus gemaak. In die tuin van Eden het Adam en Eva in perfekte geluk gebly terwyl hulle gehoorsaam was aan God, hulle Heer, Versorger en Vriend.

Die Einde

Dag 2

Aangaande hierdie leesplan

Bybel Vir Kinders

Hoe het dit alles begin? Waar kom ons vandaan? Hoekom is daar soveel ellende in die wêreld? Is daar enige hoop? Is daar lewe na die dood? Vind die antwoorde terwyl u hierdie ware geskiedenis van die wêreld lees.

Ons wil graag Bible for Children, Inc. bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://bibleforchildren.org/languages/afrikaans/stories.php

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid