Leesplan inligting

KykNET Lent GidsVoorbeeld

KykNET Lent Gids

DAG 1 VAN 39

Waar my reis begin

“Stof is jy, en jy sal weer stof word”
Genesis 3:19.

Vandag, in kerke regoor die wêreld, word die teken van die kruis met as op talle Christene se voorkoppe aangebring. Ons reis as mens begin as stof. Die skeppingsverhaal vertel hoe God stof neem, die mens vorm, asem in sy neus blaas, en hy so ’n lewende siel word.

Hoe is dit vir my om te hoor: “Jy is stof”?

Een reaksie is om met ’n sug te sê: “Ja, ek weet. Moet dus nie te veel van my verwag nie. Ek het drome gehad, maar dit het alles tot stof vergaan. Ek het al te veel foute gemaak, al te veel mense seergemaak, daar is nie hoop vir my nie.”

’n Ander manier is om met vasberadenheid te antwoord: “Ja, ek weet, maar ek sal julle wys. Ek sal iets word, baie goed bymekaarmaak en iemand wees waaroor ander praat.”

Beide reaksies spreek van ’n opvatting dat om stof te wees, nie goed is nie.

Tog, toe God die mens maak, sê God die mens is baie goed.

God weet watter maaksel ek is, gedagtig dat ek stof is. (Psalm 103:14)

En dan die woorde “na stof sal jy terugkeer”.

So dikwels leef ek onbewus van my verganklikheid. ’n Digter skryf: “Almal wil hemel toe gaan, maar net nie nou nie.”

Vandag se as en woorde herinner my dat ek beperkinge het, dat my lewe tot ‘n einde gaan kom.

Oefening: Vind ’n kerk naby jou wat vandag ’n diens hou waar jy die tekens van die as kan ontvang. Andersins, neem ’n gedroogde palmtak of enige ander as, meng dit met olie en maak vir jouself en jou huismense ’n kruis daarmee op julle voorkoppe.

Raak tydens jou tyd van gebed bewus van waar jou lewensverhaal begin het, reeds voor jou geboorte. Praat met die Here oor dit waarvan jy bewus word.

Herhaalgebed:

Here, gee my die genade om te aanvaar dat ek stof is.

Dag 2

Aangaande hierdie leesplan

KykNET Lent Gids

Lydenstyd nooi my om dit wat ek eerder vermy, in die gesig te staar — my verganklikheid, my gebrokenheid, my hartseer en teleurstellings.

Ons wil graag Mosaiek bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.mosaiek.com/
 

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid