Leesplan inligting

KykNET Lent GidsVoorbeeld

KykNET Lent Gids

DAG 9 VAN 39

Freudenfreude (uitermate blydskap)

"… seën die wat julle vervolg, seën en moenie vervloek nie; wees bly met die wat bly is, en ween met die wat ween … vergeld niemand kwaad vir kwaad nie; bedink wat goed is voor alle mense …"
Romeine 12:14,15,17 .

‘n Ander woord wat die Duitsers ook gebruik is freudenfreude. Dit beteken letterlik vreugde-vreugde. Dit is die teenoorgestelde van schaudenfreude en beteken dat ek uitermate bly is oor die sukses van ander mense. As ek sukses ervaar is daar ‘n behoefte in my om dit met ander te deel en my verwagting is dat die mense met wie ek my sukses deel saam met my sal bly wees. As daar ‘n negatiewe reaksie byvoorbeeld kompetisie getoon word, is dit teleurstellend en die verbintenis tussen my en die ander party word geskaad. Dit is nie wat goeie vriende doen nie. ‘n Goeie vriend huil saam met jou as jy huil, en is bly saam met jou as jy bly is. Paulus se uitnodiging is seën, moenie vervloek nie, moenie kwaad met kwaad vergeld nie (Romeine 12:14,15,17). Meer uitermate vreugde en minder nydigheid.

Prakties gesproke beteken dit dat as iemand iets met my deel waaroor hulle opgewonde is, ek daarin belangstel deur te vra dat hulle nog meer van hul ervaring sal deel. Ek ontvang dit en is bly saam met hulle deur dit vir hulle te sê. As iemand saam met my bly is oor iets goeds wat met my gebeur het, sê ek daarvoor dankie.

Op skool het ons rugbyafrigter ons geleer om altyd dankie te sê vir die span as jy ‘n drie druk en altyd na die persoon toe te gaan wat die drie gedruk het om hom geluk te wens. Ek gaan nie altyd self die drie druk nie, maar ek gaan altyd saam met ander bly wees as daar ‘n drie gedruk word. Dit bevorder verbintenis en voel so goed!

Jy kan nou ‘n paar oomblikke afstaan en dink aan mense in jou lewe in wie se blydskap jy kan deel. Jy kan doelbewus in hul blydskap deel deur na hulle storie van sukses te luister en te sê dat jy saam met hulle bly is.

Jy kan iets waaroor jy dankbaar is deel met iemand naby aan jou en dankie sê dat hulle geluister het en in jou vreugde deel.

Herhaalgebed: Here, ek vra vir die genade van ‘n lewe vry van vergelyking.

Dag 8Dag 10

Aangaande hierdie leesplan

KykNET Lent Gids

Lydenstyd nooi my om dit wat ek eerder vermy, in die gesig te staar — my verganklikheid, my gebrokenheid, my hartseer en teleurstellings.

Ons wil graag Mosaiek bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.mosaiek.com/
 

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid