Leesplan inligting

Advent: Herontdek Kersfees in die ChaosVoorbeeld

Advent: Rediscovering Christmas in the Chaos

DAG 4 VAN 4

Onvoorwaardelike Liefde


Gedurende die vierde week van Advent, fokus ons op LIEFDE.


Romeine 8 sê ons kan glo dat niks ons van die liefde van God kan skei nie …


"Een ding weet ek vas en seker: Niks kan ons ooit van Christus se liefde skei nie. Nie dood of lewe of engele of duiwelse magte nie; nie ons vrees vir vandag of ons kommer oor môre nie; ook nie bo-aardse magte nie. Ja, hoegenaamd niks daarbo of onder in die dieptes of elders in die skepping sal ons ooit kan skei van die liefde wat God in Christus Jesus ons Here vir ons het nie" Romeine 8:38-39 (NLV).

Hier word van uiterste lewensomstandighede gepraat soos dood of lewe, engele of duiwelse magte, vrees vir vandag of kommer oor môre, dat ons onmiddellik dink hierdie vers gaan slegs oor groot gebeure in ons lewens — 'n onomkeerbare oordeelsfout, siekte wat tot gestremdheid lei of uitermate swaarkry.


Dit is waar … nie een van hierdie dinge kan ons van die onvoorwaardelike liefde van God af weghou nie.


Tog dink ek dit kan die klein dingetjies wees wat insluip, selfs dié dinge wat goed voorkom, maar wat ons van sy liefde gedurende die Kerstyd wegrokkel.


Een van die redes hoekom ek so geheg aan Advent geraak het — en tyd afstaan om na te dink oor die hoop, vrede, vreugde en liefde van God gedurende hierdie tydperk — is omdat ek herhaaldelik agtergekom het dat die tradisionele aktiwiteite wat ons met Kersfees assosieer (familiebyeenkomste, versiering, gee van geskenke en selfs om ander te dien) die einste dinge word wat ons aandag van Jesus aflei.


Ons kan so betower word deur die atmosfeer gedurende Kersfees — die skouspel, geure en smake — dat wanneer daardie dinge afwesig is (wat onvermydelik in sommige omstandighede gedurende die besige vakansiedae kan gebeur), ons nie die liefde voel wat so algemeen in hierdie tyd van die jaar voorkom nie.


Ons tyd en energie kan ook so gefokus raak om ons huis vir gaste voor te berei, die besonderhede van ons kind se skoolpartytjie of die uitruil van anonieme geskenke by die werk, dat ons gespanne en angstig raak. Dalk kan ek ook hier byvoeg, ons kan selfs soms dink die oormatige optrede in hierdie aktiwiteite sal vir ons die liefde van familie, vriende of medewerkers verdien. Alhoewel ons optrede ons dalk wel die guns van sommige laat wen, is dit nie die rede waarom God ons liefhet nie.


Terwyl ek Romeine 8 lees en ek van God se voortdurende, onmeetbare liefde vir ons herinner word, deur al die moeilikhede waarvoor ons in die lewe te staan kom, kan ek ook met vertroue sê: …


"Nie lang toue of leë rakke …

Nie swak gevormde Kersbome of uitgebrande liggies …

Nie geskenke wat te laat opdaag of handwerk wat nie klaargemaak is nie …

Nie onafgehandelde gemmerbroodhuisies of Adventkalenders wat onoopgemaak is nie …


… kan ons van die liefde van God skei nie."


Lag maar, tog is dit soms juis hierdie klein frustrasies wat ons van Hom skei, soos ook om ander lief te hê terwyl ons gereedmaak om Kersfees te vier.


Mag jou tradisies en vierings jou hierdie Kersfees toelaat om ander baie lief te hê en jou ook nader aan die God bring wat jou liefhet. Indien een (of meer!) van hierdie klein dingetjies nie volgens plan verloop nie, weet dat Hy nog steeds daar by jou is. Mag jy gedurende hierdie besige Adventtyd vol vertroue bly dat daar niks (groot of klein) is wat jou van die LIEFDE van God kan skei nie.


Hierdie 4-dag leesplan is aangepas uit "Embracing Advent: Rediscovering Christmas in the Chaos" deur Jen Ludwig. Indien jy wil voortgaan om oordenkings oor God se gawes van hoop, vrede, vreugde en liefde deur die Adventtyd te lees, kan jy kontak maak met Jen by www.jenludwig.com of @embracingadvent.


Dag 3

Aangaande hierdie leesplan

Advent: Rediscovering Christmas in the Chaos

Begeer jy 'n dieper, meer betekenisvolle Kersfeesviering? Herontdek hierdie jaar die gawes van HOOP, VREDE, VREUGDE en LIEFDE wat God gedurende hierdie besige tydperk aan ons almal bied. Herontdek en verken met "Kersfees...

More

Ons wil graag vir Jen Ludwig bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://jenludwig.godaddysites.com/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid