Leesplan inligting

Afwagtend - 'N Lewe Gevul Met WonderwerkeVoorbeeld

Afwagtend - 'N Lewe Gevul Met Wonderwerke

DAG 1 VAN 9

In ons lewens is daar volop geleenthede vir wonderwerke. Vir my persoonlik is daar een boek in die Woord wat my gunsteling is, naamlik die boek van Johannes.

Jesus het twaalf dissipels gehad, maar daar was drie wat in sy binnekring was. Petrus, Jakobus en Johannes was altyd saam met Hom wanneer Hy Homself afgesonder het. Johannes was die een wat op Jesus se bors gelê het om sy hartklop te hoor.

Partykeer in die gejaag van die lewe en in die onsekerheid om ons is die beste plek om te wees, op Jesus se bors om sy hartklop vir ons lewe te hoor.

Ek onthou die dag toe ek as jong seun my eerste radio gekry het. Dit was nog een van daardie radio's waarvan jy die antenna moet uittrek en dan met die groot, ronde knop deur die verskillende frekwensies soek totdat jy by die regte radiostasie uitkom. Sodra jy nader kom, hoor jy die omroeper se stem vaagweg bo die gedruis, maar eers die oomblik wanneer jy op die regte golflengte is, hoor jy die stem duidelik.

In ons lewens is dit dieselfde — die wêreld maak genoeg gedruis om God se stem in ons lewens te oorweldig, maar so elke dan en wan moet ons weer op die regte golflengte kom, weer op Jesus se bors kom lê, die gedruis van die wêreld uitsny en hoor wat sy hartklop vir ons is. Die oomblik wanneer jy op sy bors lê, is dit maklik vir Hom om in jou oor te fluister.

Johannes het hierdie boek, wat ook bekend staan as Die Boek van Tekens, Die Boek van Wonders of Die Boek van Glorie, geskryf. Die boek van Johannes kan in twee verdeel word: die eerste gedeelte handel oor Jesus se bediening en die wonderwerke wat Hy gedoen het en die tweede gedeelte fokus op sy kruisiging en opstanding.

Ons lees in die eerste hoofstuk van Johannes dat die Woord in die begin voor die grondlegging van die wêreld daar was en hierdie Woord het gesê dat daar lig moet wees en hierdie lig is nooit oorweldig deur die duisternis nie. Hierdie Woord was Jesus en dit het lewend geword en onder die mens gewandel en dit was vol waarheid en genade.

Die werklikheid dat Jesus die dooie woord lewend gemaak het, maak dit moontlik vir ons om hierdie Woord in ons lewens te gebruik en dat die wonderwerke en tekens van Jesus vandag nog toepaslik en relevant in ons lewens is.

Die volgende paar dae gaan ons kyk na van hierdie wonderwerke van Jesus en hoe dit in ons lewens vandag toepaslik is.

Die rede vir die wonderwerke wat Jesus gedoen het, was sodat die mense kon glo. Op dieselfde manier vind daar daagliks wonderwerke in ons lewens plaas wat ons die vaste vertroue, die hoop en geloof soos ‘n mosterdsaad gee dat Jesus nog steeds vandag lewe in oorvloed vir ons skenk.

Die boek van Johannes 21:2, eindig met die woorde:

“Daar is nog baie ander dinge wat Jesus gedoen het. Maar as dit een vir een beskrywe moet word, dink ek, sou die hele wêreld nie genoeg plek vir die boeke hê nie.”

Gebedsriglyn

Here, open my geestelike oë om die wonderwerke te sien wat U steeds vandag in my en in diegene om my se lewens doen. Heilige Gees, help my om doelbewus daarop ingestel te wees om u hand in my lewe te sien en daarop te fokus.

Ek kies om in die gejaag van my daaglikse lewe op u bors te lê, u hartklop vir my lewe te hoor, alle ander geraas uit te sny en u boodskap vir my te hoor.

Dag 2

Aangaande hierdie leesplan

Afwagtend - 'N Lewe Gevul Met Wonderwerke

Afwagtend - 'n Lewe Gevul Met Wonderwerke. In ons lewens is daar volop geleenthede vir wonderwerke om te gebeur. Die uitdaging is gewoonlik om onsself in pas te kry met God se plan vir ons lewens sodat ons hierdie wonder...

More

Ons wil graag Volle Evangelie Kerk van God Betshalom Polokwane/Pietersburg Gemeente bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.facebook.com/betshalomchurch

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid