Leesplan inligting

Afwagtend - 'N Lewe Gevul Met WonderwerkeVoorbeeld

Afwagtend - 'N Lewe Gevul Met Wonderwerke

DAG 2 VAN 9

Die opgewondenheid, liefde en geselligheid is gewoonlik vir my die pragtigste oomblikke by 'n troue. Ek kan net dink dat dit die atmosfeer was wat in Kana geheers het tydens die bruilof waarheen Jesus en sy dissipels uitgenooi is.

Die belangrikheid van hierdie eerste vreemde wonderwerk wat Jesus gedoen het, word soms oor die hoof gesien. Daar was altyd mense betrokke by al Jesus se wonderwerke — hetsy hulle die wonderwerk nodig gehad het, sy dissipels was of net omstanders.

Skets die volgende toneel in jou gedagtes: dis gesellig by die bruilof met kos en wyn van die wingerde in die omgewing soos net die Jode dit kan voorberei. Anders as waaraan ons tradisioneel gewoond is, het hierdie bruilof op die derde dag van die week plaasgevind. Die rede hiervoor was eintlik baie spesiaal as ons na die Joodse tradisie gaan kyk.

Tydens die skeppingsverhaal lees ons dat daar elke keer nadat God gespreek het, iets ontstaan het en elke keer het God gesê: “Dit is goed … ”, maar op die derde dag nadat God die land en die see asook die gras en die plante geskei het, het Hy twee maal gesê: "Dit is goed" en daarom het die Jode geglo dit was ‘n dubbele seën op die derde dag.

Toe die bruilof lekker aan die gang is, kom Maria, Jesus se ma, na Hom toe en verduidelik dat daar moontlik 'n verleentheid vir die bruidegom kan ontstaan, omdat die wyn op is.

Jesus antwoord haar met die woorde: “Vrou, wat het ek met U te doen? My uur het nog nie gekom nie.” Hy het geweet die oomblik wanneer die wonderwerk bekend word, sal Hy nie net as mens gesien word nie, maar ook as God.

Maria draai na die diensknegte en sê vir hulle (my vertaling) dat hulle presies moet doen wat Hy sê sonder om enige vrae te vra.

Ons weet wat volgende gebeur het, hulle maak die kanne vol water en Jesus sê vir hulle dat hulle dit aan die seremoniemeester moet gee om te proe voordat hy dit vir die mense gee. Dit was toe die beste wyn wat aan die gaste voorgesit is.

Dit was Jesus se eerste wonderwerk en was nie net simbolies van dit wat kom nie, maar dit het ook sy heerlikheid aan sy dissipels geopenbaar en daarna het hulle in Hom geglo.

Ek kan myself net indink wat die diensknegte moes dink toe hulle die reinigingsbakke vir Hom vol water gemaak het. Die groot les wat ek hier leer, is dat hulle onmiddellik gehoorsaam was; hulle het nie eers gekibbel of onderhandel nie. Hulle het dit dadelik gedoen.

Vir ons om wonderwerke in ons lewens te ervaar, gaan dit van ons verg om onmiddellik gehoorsaam te wees aan die woord van God aan ons, nie te onderhandel of ‘n tweede opinie te soek nie, maar dadelik op te tree.

Die simboliek van hierdie wonderwerk het gedui op dit wat nog in Jesus se bediening sou kom.

— Jesus is die bruidegom en ons die bruid

— Die wyn verteenwoordig die reiniging wat deur Jesus se bloed plaasgevind het

— Die eenvoudigheid van hierdie wonderwerk is ‘n kenmerk van die eenvoud van Jesus se genade

— Jesus het ook op die derde dag opgestaan

— Die beste wyn is gehou vir laaste. Dit dui op die nuwe verbond in Jesus wat ewig sou staan

Hierdie eenvoudige maar merkwaardige wonderwerk leer ons ‘n paar dinge wat van toepassing is in ons persoonlike lewens:

Jesus is al wat ons nodig het. Dit is egter maklik om op die wyn te fokus en sodoende vir Jesus in die wonderwerk mis te kyk.

Wat is vandag die "wyn" in jou lewe? Dalk ‘n nuwe werk, deurbraak in finansies, ‘n nuwe kar of 'n huis? Moet nooit toelaat dat dit jou fokus steel van die persoon wat die wonderwerk doen nie.

Die oomblik wanneer God wonderwerke in ons lewens doen, gee ons die eer en heerlikheid aan Hom. Die fokus is nooit op ons behoeftes nie, maar op God se heerlikheid en grootheid.

Gebedsriglyn

Here, help my om onmiddellik aan u woord in my lewe gehoorsaam te wees. Dankie vir die wete dat U ‘n nuwe verbond met ons kom sluit het, dat ons skoon gewas is deur Jesus se bloed en dat ek rein en skoon voor U kan staan.

Help my om nooit, in watter omstandighede ook al, my fokus van Jesus af weg te skuif en die wonderwerke te begin aanbid nie, maar om altyd die eer aan God te bring.

Dag 1Dag 3

Aangaande hierdie leesplan

Afwagtend - 'N Lewe Gevul Met Wonderwerke

Afwagtend - 'n Lewe Gevul Met Wonderwerke. In ons lewens is daar volop geleenthede vir wonderwerke om te gebeur. Die uitdaging is gewoonlik om onsself in pas te kry met God se plan vir ons lewens sodat ons hierdie wonder...

More

Ons wil graag Volle Evangelie Kerk van God Betshalom Polokwane/Pietersburg Gemeente bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.facebook.com/betshalomchurch

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid