Leesplan inligting

Afwagtend - 'N Lewe Gevul Met WonderwerkeVoorbeeld

Afwagtend - 'N Lewe Gevul Met Wonderwerke

DAG 8 VAN 9

Vir my persoonlik is die moeilikste deel van die bediening om ‘n begrafnis te hou, en dit raak nog erger wanneer dit ‘n begrafnis van ‘n geliefde is. Dit is moeilik om met ‘n knop in jou keel te praat, om sterk te staan en ander te troos terwyl jy self baie hartseer is.

Dit was die hartseer atmosfeer wat geheers het by Marta en Maria tydens die dood van Lasarus. Hulle het die oomblik toe hy siek raak, dadelik vir Jesus laat weet. Ek kan my net hulle hartseer en teleurstelling indink toe Jesus nie dadelik opdaag nie.

Jesus het die nuus oor Lasarus se siekte gekry. Hy het geweet wat die plan van God was, maar die vraag bly by my opkom hoekom Hy twee dae vertoef voor Hy by hulle opgedaag het?

Om dit te verstaan moet ons die vorige hoofstuk lees. Teen hierdie tyd was die Fariseërs al baie kwaad vir Jesus, en hulle het dit reggekry om van die mense op te steek om Jesus te te stenig. Jesus kom egter weg en bevind Homself by die Jordaanrivier waar Hy deur Johannes die Doper gedoop is.

Ons sal nooit immuun wees teen mense wat teen ons opstandig raak wanneer ons doen wat Jesus van ons verwag nie. Dit het met Jesus self gebeur, maar ons leer ‘n baie belangrike les. Wanneer dit te veel raak, wanneer dit moeilik raak, gaan terug na waar God met jou gepraat het. Of dit deur beloftes, 'n profetiese woord of selfs ‘n prediker se boodskap was, gaan terug en word versterk in sy teenwoordigheid.

Jesus daag toe twee dae later by sy vriende op en Marta hardloop hom tegemoet. Dit was sy en Maria wat Jesus laat roep het, wat nou treur, wat begin twyfel het. Marta en Maria vra Hom toe albei die bekende vraag wat ek seker is ons gereeld vir God vra: “Waar was U?”

Ons bevind onsself in omstandighede waar ons sonder hoop is, waar dit vir ons voel of die Here ons nie hoor nie. Hy is nie daar vir ons nie, Hy gaan te laat opdaag. Tog, die Here weet presies wanneer en wat ek nodig het, en soms wag Hy dat ons klaar al ons eie planne gemaak het om onsself uit die probleem te kry. Die oomblik as al ons hulpmiddels uitgeput is, wanneer ons nie meer weet watter kant toe nie, daardie oomblik wat ons totaal oorgee, dan is die oomblik wanneer Jesus in ons dooie omstandighede opdaag en lewe spreek.

Jesus staan by die graf en vra dat hulle dit moet oopmaak. Die Joodse grafte was nie ‘n gat in die grond soos ons gewoond is nie, maar ‘n grot wat in ‘n berg of heuwel uitgekap en dan met ‘n klip toegerol is.

Marta wil nog sê dit is te laat en hy ruik al, maar Jesus roep Lasarus uit die graf uit. Jesus spreek lewe in dooie omstandighede en Lasarus kom uitgestap. Dit is ‘n groot wonder, maar Jesus gaan verder en sê hulle moet die grafdoeke van hom afhaal.

Jesus roep ons uit ons dooie omstandighede, maar partykeer verkies ons om onsself nog steeds vasgebind te hou. Ons hou nie op met ons verkeerde leefstyl nie, maar tog verwag ons lewe in oorvloed.

Daar is ‘n verskil tussen bloot net te lewe en om lewe in oorvloed te ervaar. Jesus roep ons nie net uit ons omstandighede uit nie, nee Hy wil ons herstel in ons posisie voor God en dit moontlik maak vir ons om werklik te proe dat God goed is.

Gebedsriglyn

Here, help my om terug te keer na u Woord, om tyd deur te bring in u teenwoordigheid, want dit is daar waar ek versterk word. Ek is dankbaar vir die lewe in oorvloed wat Jesus vir my belowe het, om my vry te maak uit my dooie omstandighede en my daaruit te roep na sy volmaakte plan. Heilige Gees help my om dit wat dood in my lewe veroorsaak, te vermy en te fokus op die lewe in Jesus.

Dag 7Dag 9

Aangaande hierdie leesplan

Afwagtend - 'N Lewe Gevul Met Wonderwerke

Afwagtend - 'n Lewe Gevul Met Wonderwerke. In ons lewens is daar volop geleenthede vir wonderwerke om te gebeur. Die uitdaging is gewoonlik om onsself in pas te kry met God se plan vir ons lewens sodat ons hierdie wonder...

More

Ons wil graag Volle Evangelie Kerk van God Betshalom Polokwane/Pietersburg Gemeente bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.facebook.com/betshalomchurch

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid