Leesplan inligting

Afwagtend - 'N Lewe Gevul Met WonderwerkeVoorbeeld

Afwagtend - 'N Lewe Gevul Met Wonderwerke

DAG 6 VAN 9

Daar is een plek wat vir my as mens net werklik laat besef hoe groot die skepping is, en dit is wanneer ek op ‘n boot in die middel van die see is. Veral as die see begin onstuimig word. Daardie besef as hierdie boot omkantel gaan jy dit heel waarskynlik nie oorleef nie.

Nadat Jesus die menigte kos gegee het, het Jesus Homself afgesonder op die berg, en sy dissipels het vooruit gevaar op ‘n skuit na Kapernaüm toe. Die see van Galilea was bekend vir sy storms as die wind uit die ooste begin opsteek.

In die boek Johannes lees ons die verhaal vanuit ‘n unieke oogpunt. Die dissipels het sopas hierdie wonderwerk eerstehands beleef, en vol geloof vaar hulle oor na die ander kant toe. Ek meen die meeste was vissermanne, dus het hulle geweet hoe om ‘n boot in ‘n storm te hanteer.

Ewe skielik sien hulle in hierdie storm hoe Jesus na hulle toe oor die water aangeloop kom. Petrus sê vir Jesus as dit werklik Hy is, wil hy oor die water na Jesus toe loop. Nie een van die ander dissipels doen dit nie. Hulle het almal dieselfde wonderwerk beleef, maar Petrus is die enigste een wat die waagmoed het om dit van Jesus te vra.

Ons ken die verhaal, Petrus klim uit die boot en begin op die stormagtige see loop, oë gevestig op Jesus, maar die oomblik toe hy fokus verloor en van Jesus af wegkyk, begin hy vrees en sink.

Ons kan die selfvertroue hê om ter wille van Jesus te waag, Hom te vra om wonders te doen in en deur ons, maar wat maak jy as die storm nie bedaar nie? Wat maak jy as jy begin twyfel of jy reg gehoor het? Die oomblik as ons fokus verloor van die Een wat ons geroep het? Ons begin vrees, en ons word deur ons omstandighede oorweldig.

Jesus steek sy hand uit en trek vir Petrus uit die water op, en dan lees ons iets uniek vanuit Johannes se oogpunt, iets wat ons nie in die ander evangelies lees nie.

Die oomblik toe hulle Jesus gewillig in die skuit inlaat, het die storm dadelik bedaar en was hulle aan die anderkant. Storms in jou lewe is onafwendbaar, ons gaan elkeen deur ons eie storms, maar een ding bly konstant, een Persoon bly daar vir ons, en die oomblik as ek Jesus gewilliglik in my lewe inlaat, sal die storm in my lewe bedaar, want soos die dissipels daardie aand besef het, die oomblik as Jesus praat luister selfs die grootste storm na Hom.

Gebedsriglyn

Dankie Here dat ek u Naam kan aanroep in die grootste storms en weet, die oomblik as ek U toelaat in my skuit, kan U ‘n woord spreek en elke storm sal U gehoorsaam. Jesus ek kies om U deel te maak van my storm, ek kies om dit nie alleen deur te maak nie. Heilige Gees help my om gefokus te bly op Jesus wanneer ek deur die lewensstorms gaan, om nie oorweldig te word deur my storm nie, maar eerder deur Jesus se liefde oorweldig te word.

Dag 5Dag 7

Aangaande hierdie leesplan

Afwagtend - 'N Lewe Gevul Met Wonderwerke

Afwagtend - 'n Lewe Gevul Met Wonderwerke. In ons lewens is daar volop geleenthede vir wonderwerke om te gebeur. Die uitdaging is gewoonlik om onsself in pas te kry met God se plan vir ons lewens sodat ons hierdie wonder...

More

Ons wil graag Volle Evangelie Kerk van God Betshalom Polokwane/Pietersburg Gemeente bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.facebook.com/betshalomchurch

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid