Leesplan inligting

Soms Vra God Geduld ...Voorbeeld

Soms Vra God Geduld ...

DAG 6 VAN 7

Teenspoed kweek geduld

So ’n tyd gelede het ’n jong Australiese man wat nou in Amerika woon, vir ons by Shalom kom kuier. Hy is gebore sonder arms of bene en hy reis die wêreld deur as evangelis. Terwyl hy by ons gekuier het, het hy meer in my lewe gespreek as wat ek ooit in syne kon spreek.

Voor sy vertrek wou hierdie jong man ’n foto van ons twee saam hê. Om die foto te neem, moes hulle hom op ’n tafel sit sodat ons op dieselfde hoogte kon wees. Ek is nog selde in my lewe soveel aangeraak deur die liefde van ’n ander mens as van daardie jong man. Hy kon nie my hand skud nie; hy het net gesê: “Angus, gee my ’n druk.” Natuurlik kon hy my nie ’n druk gee nie; hy kon slegs sy kop gebruik toe ek my kop op sy skouer gerus het. Net voor hy weg is, het hy vir my ’n DVD gegee. Hy het gevra of hy dit vir my kan teken. Een van sy vriende het vir hom ’n pen gegee, hy het dit tussen sy tande vasgehou en ’n boodskap op die DVD geskryf. Sy handskrif was beter as myne, en ek het twee hande en twee voete. Ek het iets in daardie jong man gesien wat ek selde in jong mans van sy ouderdom sien.

Jong mans is dikwels ongeduldig en nie juis sensitief of tegemoetkomend nie. Ek was ook jonk en ek onthou hoe ek was. Jy sien, as jy nie die ongenaakbaarheid van die lewe deur pyn en lyding ervaar het nie, kan jy maklik ongeduldig raak met mense. Die jong man wat by my gekuier het, moes van geboorte af groot beproewings verduur. Tog het hy nie net opgegee en homself bejammer nie. Hy het besluit om God toe te laat om sy teenspoed te gebruik om na mense uit te reik. Het jy jouself oorgegee aan selfbejammering, of laat jy God toe om jou teenspoed tot sy verheerliking te gebruik?

My Vader, ek besef dat ek myself so dikwels bejammer. Ek bid dat U my sal vergewe. Help my om my oë op U te rig en slegs op U. In U sal ek alles vind wat ek nodig het om nie net my laste te dra nie, maar ook om my daarin te verbly. Ek bid dat U my die gawe van geloof sal gee. Amen.

Dag 5Dag 7

Aangaande hierdie leesplan

Soms Vra God Geduld ...

Geloof is nie “Siedaar!” nie – jy klap nie bloot jou vingers of swaai ’n towerstaf nie. Jy moet eers vra na die wil van God. En dan moet jy dikwels wag ... Ons moet getrou bly tot ons God se stem hoor en geduldig op Hom ...

More

Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.cumbooks.co.za/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid