Leesplan inligting

Soms Vra God Geduld ...Voorbeeld

Soms Vra God Geduld ...

DAG 3 VAN 7

’n Les in lydsaamheid

Geloof is om te glo wat jy nog nie sien nie, maar die beloning van hierdie geloof is om te sien wat jy glo. Ek beleef dit keer op keer. As daar een ding is wat landbou en boer my geleer het, is dit geduld. Dit neem baie jare van geduld en volharding om ’n beesstoetery op te bou. ’n Mens praat van generasies. Ek praat van die diere: van die koeie, die kalwers en die bulle. Jy moet nuwe en verskillende bloedlyne teel om die perfekte dier te kry. Ja, daar is definitief bekwaamheid, vaardigheid en harde werk by betrokke, maar ook lydsame geloof. ’n Mens kyk vorentoe en glo dat jy die gewenste resultaat sal behaal.

Dit is ook waar van ’n mielie-oes: Dit groei nie net oornag nie. Dit neem ’n volle nege maande vanaf die tyd wat jy die land begin bewerk totdat die oes inkom. Dit benodig lydsaamheid van geloof. Geloof is nie “Siedaar!” nie – jy klap nie bloot jou vingers of swaai ’n towerstaf nie. Die Engelse gesegde “name it and claim it” werk nie met geloof nie. Jy moet eers vra na die wil van God. Eers wanneer Hy met jou praat en vir jou sê wat Hy wil hê jy moet doen, doen jy dit. Jy gehoorsaam sy stem, al gebeur wat ook al.

Dan beywer jy jou om te doen wat God vir jou sê om te doen. Jy kyk nie na omstandighede rondom jou nie. Jy word nie beïnvloed deur groepsdruk of die menings van ander mense nie. Jy bly getrou aan God se stem en jy wag geduldig op Hom om sy wil en sy beloftes in jou lewe gestand te doen. Jy sal dit nie kan doen as jy nie ’n gesonde verhouding met Jesus het nie. Onthou: Die wortel van geloof is ’n verhouding met ’n Persoon. As jy Jesus ken, sal jy sy stem herken en weet wanneer Hy met jou praat. Hoe beter jy Hom leer ken, hoe makliker sal dit wees om geduldig te wag vir Hom om sy woord aan jou te verwesenlik.

My Vader, U leer my op soveel verskillende maniere. Ek besef dat geduld in vandag se tye nie algemeen is nie. Help my om U te ken, om u wil te ken, om met lydsaamheid op U te vertrou en om u wil te doen en u beloftes in my lewe te laat waar word. Amen.

Dag 2Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

Soms Vra God Geduld ...

Geloof is nie “Siedaar!” nie – jy klap nie bloot jou vingers of swaai ’n towerstaf nie. Jy moet eers vra na die wil van God. En dan moet jy dikwels wag ... Ons moet getrou bly tot ons God se stem hoor en geduldig op Hom ...

More

Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.cumbooks.co.za/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid