Leesplan inligting

God Se Liefde in Breë TrekkeVoorbeeld

God Se Liefde in Breë Trekke

DAG 2 VAN 5

1 Korintiërs 13: Die liefde is...

Paulus wy ‘n hele hoofstuk in 1 Korintiërs 13 daaraan om die liefde te beskryf. Hy sê: “Die liefde is geduldig en vriendelik.” Die Ou Vertaling gebruik die woord “lankmoedig”. Die betekenis is dat iemand wat liefhet, nie sommer gou hulle humeur verloor nie, al voel hulle geïrriteerd en gefrustreerd. Liefde kyk selfs soms anderpad, eerder as om kwaad te word.

Liefde is selfs meer as dit, dis vriendelik. Dit verduur nie net nie, maar dit reik uit na die ander persoon en sê: “Ek gee om vir jou.” Dit is hoe die Here ons liefhet. Wanneer ons misluk en Hom teleurstel, is Hy geduldig met ons en Hy bewys sy goedhartigheid aan ons wanneer Hy ons vergewe. Dis vir ons nodig om te leer om mekaar op dieselfde manier lief te hê. Dié soort liefde kan mense se lewens verander.

Verder sê Paulus die liefde verheug hom oor die waarheid. Ons moet die waarheid met mekaar praat, maar die waarheid in liefde, want waarheid sonder liefde kan ook baie seermaak.

Paulus sê die liefde het sekere kenmerke wat altyd waar is en dit is: Die liefde gee nooit moed op nie. Liefde beskerm altyd. Die liefde glo en hoop altyd. As ek jou lief het, is ek geneig om in jou te glo. Al stel jy my teleur en maak jy my seer, bly ek steeds in jou glo omdat ek jou liefhet, want ek weet wat jy kàn wees en word.

Dit is hoe ware liefde lyk, want dit is die liefde wat God vir ons het. Hy gee nooit moed op met ons nie. Hy weet wat ons kàn wees en word.

Probeer om ten minste nou een eienskap van die liefde prakties teenoor iemand te demonstreer, byvoorbeeld: Antwoord vriendelik as iemand jou ‘n vraag vra of as jy vir hulle vra; besluit om ‘n ou grief te laat gaan en iemand vry te spreek; luister aandagtig wanneer iemand met jou praat of gaan verras iemand met koffie. Wees liefde in aksie.

Dag 1Dag 3

Aangaande hierdie leesplan

God Se Liefde in Breë Trekke

Ons kom weereens diep onder die indruk van die feit dat niks ons van God se liefde kan skei nie. Toe Karl Barth na ‘n lesing wat hy gegee het, deur ‘n student gevra is om op te som wat hy geleer het in sy werk as teoloog...

More

Ons wil graag NHKA bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://www.nhkwitfontein.co.za/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid