Leesplan inligting

In Liefde Gegrond: Om die Christelike Lewe Voluit te LeefVoorbeeld

Rooted in Love: Living the Christian Life to the Full

DAG 1 VAN 7

 Kom Kyk 



Wat het jou aanvanklik na die Christelike geloof getrek? 



Johannes se verhaal oor die roeping van die eerste dissipels is sorgvuldig saamgestel. Die aanvang van sy evangelie word in terme van "dae" beskryf ("die volgende dag ... die volgende dag"). Hy vertel die verhaal nie chronologies nie — maar dui eerder die vordering van Jesus se bediening aan, asook die manier hoe Johannes die Doper na hom as die Messias verwys. Johannes die Doper verklaar dat Jesus die Lam van God is (hy het alreeds daardie frase in die vorige afdeling bekendgestel, in v. 29). Hierdie is die taal van die Messias wat na Jesaja se profesieë verwys, asook Abraham se offerlam en apokaliptiese beloftes. "Dáár is die Lam van God", sou onmiddellik die aandag trek van hulle wat wag op die Een wat sou kom. Johannes die Doper se dissipels se belangstelling is geprikkel. Die vraag wat Jesus stel — vir hulle en vir ons — is: "Wat soek julle?" Intellektuele nuuskierigheid is gewoonlik die beginpunt in ons soeke na geloof. Jesus nooi hulle om te kom kyk en hulle erken hom as 'n rabbi; hulle het toe by hom aangesluit waar Hy tuisgaan. Ons vind dat Andreas een van Johannes die Doper se dissipels was, wat op sy beurt, sy broer Simon Petrus saamgenooi het. Die intellektuele soeke kan ons egter net só ver bring. Jesus het waarskynlik begin om hulle vrae te beantwoord oor wat dit vir hom beteken het om die Messias te wees, maar hulle is nog steeds op hul reis. Dit is eers Filippus en Natanael, in die volgende deel van die evangelie, wat effens dieper delf met hulle reaksie — alhoewel dit steeds redelik oppervlakkig is ("toe jy nog onder die vyeboom was, het Ek jou al gesien"). 



Voordat hierdie manne werklik dissipelskap aanvaar het, gaan hulle langer met Jesus op reis moet wees, na hom moet luister en hom dophou. Dit is dus goed — want Jesus aanvaar ons soos ons is, nie in 'n soort geïdealiseerde wêreld van geestelike samehang nie. Ons reis skop eers werklik af wanneer ons op die plek kom waar ons saam met Andreas kan sê: "Ons het die Messias gekry!" Johannes se evangelie sal die dissipels op daardie reis neem — van geïnteresseerd wees en intellektuele nuuskierigheid tot sewe tekens wat uitwys wie Jesus werklik is — Hy het water in wyn verander, siekes genees, 5 000 mense gevoed en uiteindelik (wat sy arrestasie en dood onafwendbaar gemaak het), wek Hy Lasarus uit die dood op. Wat die dissipels betref, hulle is tot geloof oortuig, tot dissipelskap uitgedaag en tot 'n nuwe verhouding uitgenooi wat in liefde gevestig is. Hulle groei nie tot die voltooide produk in hierdie evangelie-verhaal nie — Tomas twyfel, Petrus verloën en Judas verraai. Ook in ons lewens, is ons navolging van Jesus nie so eenvoudig nie. Ons gaan ook foute maak en ontrou wees, net soos die eerste dissipels. Die goeie nuus is egter dat Hy ons vashou. God is getrou selfs wanneer ons ontrou is. Hy sal ons nie verlaat nie. Die Lydenstyd herinner ons, wanneer ons ver tekortskiet, dan sal belydenis, vergifnis en hernuwing ons in staat sal stel om verder op ons reis voort te gaan.






Vrae vir Nadenke



1. Besin oor waar jy nou in jou reis saam met Jesus is. Toe jy weet jy is uitgenooi om te "Kom kyk", wat het volgende gebeur?



2. Wat wil jy hê moet volgende op jou Christelike reis gebeur?



3. Wat sal jy graag vir God, jou kerkvriende, jou leraar wil sê oor "wat volgende is"?


Dag 2

Aangaande hierdie leesplan

Rooted in Love: Living the Christian Life to the Full

Hoe kan ons meer Christus-gesentreerde lewens leef? Hierdie 7-dag leesplan, is gebaseer op "Rooted in Love", 'n boek vir die Lydenstyd deur al die area biskoppe in die Bisdom van Londen. Dit is propvol praktiese bemoedig...

More

Baie dankie aan SPCK Uitgewers wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://spckpublishing.co.uk/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid