Leesplan inligting

Om die Oorlog in Jou Gedagtes te WenVoorbeeld

Winning the War in Your Mind

DAG 1 VAN 7

Ons lewens beweeg altyd in die rigting van ons oorheersende gedagtes. Waaraan ons aan dink, vorm wie ons is.



Jy mag dit dalk lees en dink dat ek 'n té dramatiese prediker is wat oordrewe stellings gebruik om jou aandag te kry. Dit is egter geen oordrywing nie.



Ons lewens volg wel die rigting van ons gedagtes. Hoe beter ons hierdie waarheid begryp, hoe beter sal ons toegerus wees om die koers van ons lewens te verander. Moet egter nie my woord hiervoor aanvaar nie. Beide die Bybel en moderne wetenskap verskaf bewyse dat dit waar is. Dus gaan ons regdeur hierdie Bybelleesplan ondersoek instel wat ons uit beide die Skrif en wetenskaplike navorsing geleer het. Hier is 'n kort voorbeeld van beide:



In Filippense 4:8 skryf apostel Paulus: "Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig. En wat julle van my geleer en ontvang het, en gehoor en gesien het, dit moet julle doen. En God wat vrede gee, sal by julle wees."



In hierdie drie sinne beweeg Paulus van




  • gedagtes ("daarop moet julle julle gedagtes rig") na

  • optrede ("dit moet julle doen") na

  • ondervinding ("En God wat vrede gee, sal by julle wees").


Paulus vertel ons dat ons gedagtes ons lewens vorm.



Oor die laaste klompie jare het daar 'n totaal nuwe dissipline in moderne sielkunde ontstaan, bekend as kognitiewe gedragsterapie. Hierdie deurbraakonderrig openbaar dat baie probleme, van eetversteurings tot verhoudingsuitdagings, verslawing, en sommige vorms van depressie en angstigheid, hul oorsprong in foutiewe en negatiewe denkpatrone het. Die behandeling van hierdie probleme begin deur verandering van hierdie denke.



Ek weet nie van jou nie, maar wanneer die Bybel en moderne sielkunde dieselfde ding sê, wil ek meer weet.



Wat die wetenskap vandag demonstreer, is wat God deur Salomo vir ons byna drieduisend jaar gelede gesê het: "Want soos hy in sy siel bereken, so is hy." Spreuke 23:7 AFR53



Dus, as beide die Bybel en moderne wetenskap ons leer dat ons lewens in die rigting van ons oorheersende gedagtes beweeg, dan moet ons onsself afvra: "Hou ek van die rigting wat my gedagtes my laat inslaan?" 



As jou antwoord nee is, is dit dalk vir jou tyd om jou denke te verander. Dalk is dit tyd om te besluit dat jy jou denke moet verander sodat God jou lewe kan verander.



Indien jy skepties is, is dit ook reg. Glo my, ek verstaan. Ons het almal al onsuksesvol probeer om slegte gewoontes te verander en om ons gedagtes wat soos 'n wegholtrein op loop sit, weer op die regte spoor te kry. Hierdie keer is jy egter nie alleen nie. Jy is op die punt om te ontdek dat God met jou wil saamspan om jou denke te verander. 



Met God se hulp kan jy jou denke verander. Jy kan ophou om die leuens wat jou terughou te glo. Jy kan 'n stokkie steek voor die bose kringloop van gedagtes wat vir jou en ander vernietigend is. Jy kan toelaat dat God jou denke vernuwe deur jou met sy onveranderlike waarheid te versadig.


Dag 2

Aangaande hierdie leesplan

Winning the War in Your Mind

Die meeste lewensgevegte word in ons denke gewen of verloor. Hoe kan ons egter begin om meer van hierdie gevegte te wen? In hierdie 7-dag Bybelleesplan uit die boek van Pastoor Craig Groeschel van Life.Church, sal ons on...

More

Ons wil graag Pastoor Craig Groeshcel en Life.Church bedank vir die voorsiening van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek gerus www.craiggroeschel.com

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid