Leesplan inligting

'n Ouer se Gids tot 'n Nuwe Baba: Lyding en SelfsorgVoorbeeld

A Parent’s Guide to a New Baby:  Suffering and Self-care

DAG 4 VAN 5

Selfsorg is babasorg


Die nageboortelike tydperk kan in baie opsigte vergelyk word met 'n swart gat. Jy vergeet watter dag dit is. Jy kan nie onthou wanneer laas jy gestort het nie. En jy het die huis weke laas verlaat. Moet my nie verkeerd verstaan nie; baie aspekte van hierdie tydperk is 'n absolute vreugde. Jy kan gedurig die nuwe baba se lyfie koester en vertroetel en 'n pragtige band tussen ouer en kind smee. Maar as jy nie versigtig is nie, kan jy maklik tred verloor met tyd. 



Daar is 'n inherente verwagting van volwassenes om na hulself om te sien en hulself te versorg, maar hoe maak jy wanneer jy voltyds besig is om iemand anders te versorg? Ek het menige dae vergeet om myself ontbyt en middagete te gee terwyl Wesley 'n baba was. Genadiglik het ons baie sorgsame vriende gehad wat vir ons aandetes gebring het, want anders sou ek seker vergeet het om in die aand ook te eet! Uit vrees om die baba vir een oomblik alleen te los, sou ek wag tot Craig tuis was voor ek sou gaan stort. Maar teen daardie tyd was ek alreeds te moeg om selfs net van die bank af op te staan, wat nog te sê van oefen of moeite doen om my hare te stileer. 



Die eise wat aan nuwe ouers gestel word, beide werklik en self-opgelê, kan jou aanvanklik oorweldig en verswelg. Jy het waarskynlik nog nooit tevore in jou lewe nodig gehad om elkeen van jou eie behoeftes op te weeg teen die behoeftes van 'n ander persoon nie. Dit kan werklik uitdagend wees om die balans te vind, maar dit is belangrik dat jy sal besef hoe noodsaaklik selfsorg is en dat jy sal moeite doen om die nodige tyd daarvoor in te ruim. Jou persoonlike welsyn is belangriker vir jou baba as wat jy dalk dink, want as jy nie gesond is en floreer nie, sal jou baba ook nie kan nie. 



Die feit is: jy gaan meer prikkelbaar en broos wees op enige gegewe dag wanneer jy nie die tyd maak om te eet, te stort en tyd in die buitelug te spandeer nie. Dit is onvermydelik dat daar wel sulke dae sal wees, maar dit is belangrik dat jy nou reeds gesonde verwagtinge vir jou selfsorg roetine sal stel om moontlike uitbranding te voorkom. Help mekaar dan ook om hierdie selfsorg roetine aktief toe te pas. Hoe gereeld wil jy seker maak jy neem 'n stort? Hoe gereeld wil jy seker maak jy borsel jou tande? Hoe gaan etes werk? Ek weet dit klink amper kinderagtig, maar wanneer die tyd kom gaan dit werklik help as julle julself verantwoordbaar kan hou ten opsigte van die lewe wat julle julself graag as gesin wil gun, selfs wanneer dit net basiese higiëne betref.



Jy en jou eggenoot sal werklik na mekaar moet omsien in hierdie areas. Soos ek al vantevore genoem het, gaan dit belangrik wees om nou en dan aan jou eggenoot voor te stel: "Liefie, waarom kyk ek nie vir 'n tydjie alleen na die baba terwyl jy 'n oomblik vir jouself neem nie?" Ek kan eerlik sê dat daar geen groter geskenk van liefde is as juis hierdie woorde nie! As dit begin lyk of jou eggenoot kajuitkoors kry, stel voor dat julle die stootwaentjie vat en 'n entjie saam gaan stap. Veg vir mekaar se welsyn en almal sal gelukkiger en gesonder wees. 



Nuwe normale sal weer gevestig word. Onthou om geduldig met mekaar te wees. Hierdie tydperk is kort, maar die dae is lank en verg geduld met die proses van aanpassing. Geniet dit terwyl dit daar is, want die spesiale oomblikke van hierdie dae gaan verby wees voor jy dit besef. Jou lewe verander ten goede en die nuwe normaal gaan gou een wees waarsonder jy jou lewe nooit sou kon voorstel nie.


Dag 3Dag 5

Aangaande hierdie leesplan

A Parent’s Guide to a New Baby:  Suffering and Self-care

Die koms van 'n baba verander alles. Dit is asof hierdie klein lewe die nuwe swaartepunt word, wat die res van jou heelal in sy wentelbaan intrek. Dit is moeilik om jouself voor te berei op iets só onbekend soos die toev...

More

Baie dankie aan "Christian Parenting" wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting, besoek gerus: https://www.christianparenting.org/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid