Leesplan inligting

VrygespreekVoorbeeld

Vrygespreek

DAG 5 VAN 5

Vlug Godwaarts


“God, ek is ‘n sondaar. Help my! Wees genadig!”


Hierdie paar woorde, hierdie tragiese noodkreet, was al wat die tollenaar in Lukas 18 oor sy lippe kon kry. Dit het sy ganse lewe tot op daardie kritiese moment verwoord. Dit het alles gesê. Wat ’n paar woorde was dit nie! Toe een van die heel kortste gebede in die ganse Bybel oor sy lippe uitgestort is, het dit op presies die regte Plek aangeland. Dit het God se Vaderhart direk geraak. In ’n Goddelike oomblik het Hy skielik sy hemelse genadesluise oor hierdie man oopgemaak. Soos ’n massiewe vloedgolf het hemelse goedheid in ’n oogknip oor die tollenaar gespoel. Ja, genade het hom vinniger as die spoed van lig getref. ’n Tsoenami van liefde het die tollenaar se lewe daardie dag vir altyd verander. Die hemel en aarde het beweeg omdat God se Vaderhart diep en intens geraak is deur ’n stukkende mens se noodkreet. 


Net een sinnetjie is meer as genoeg. Wanneer ’n sondaar met ’n wavrag sondes by die hemel opdaag, by die heiligste plek in die heelal, asook met ’n noodkreet in die hart, dan is dit genadetyd. Die groot oomblik vir God om op sy heel beste te wees, is juis wanneer ’n sondaar voor Hom verskyn met leë hande. Nee, eintlik met vol hande. Met hande vol sonde en nêrens elders om daarmee te gaan nie. 


As jy iewers heen moet vlug met jou sonde, vlug dan vorentoe. Vlug Godwaarts. Kom met jou stukkende lewe, jou mislukkings en jou miljoen kere se droogmaak by die hemelse poorte aan. Val in die stof voor God neer. Pleit om genade, al is dit net een sinnetjie lank, soos die tollenaar. Erken dat jy heeltemal bankrot is. Aanvaar verantwoordelikheid vir al die gemors in jou lewe. Laat vaar jou flou verskonings wanneer jy voor God verskyn. Jy alleen is die skuldige. Dis jy wat op elke afdraaipaadjie rondgedwaal het. Dis jy wat jou vingerafdrukke op die nuutste sondes op die mark agtergelaat het. Jou voetspore lê wyd en syd rond op alle sondepaaie. Kyk mooi, jou naam en adres is lankal op Doodloopstraat ingegraveer.




 Hierdie oordenkings is saamgestel uit VRYGESPREEK! deur Stephan Joubert © Christelike Uitgewersmaatskappy. 

Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

Vrygespreek

Hierdie dagstukkies herinner ons dat ons geloof gebou is op God se oneindige groot genade vir ons. In ‘n wêreld waar daar maar baie min genade te sien is, soms veral in die kerk, kom spreek God ons deur Jesus Christus vr...

More

Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://cumbooks.co.za/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid