Leesplan inligting

VrygespreekVoorbeeld

Vrygespreek

DAG 1 VAN 5

Genade het ‘n naam en adres: Jesus!


Die eerste mensepaar het ’n ongelooflike nuwe wêreld as geskenk uit God se hand ontvang. Dit was volmaak, veilig en mooi. Ja, ’n fantastiese, skoon, sondevrye wêreld. 


Onverklaarbaar, dwaas, onverantwoordelik, arrogant, vaak, dom; hoe ’n mens ook al die eerste mensepaar se een verkeerde keuse wil beskryf, dit was die begin van alle chaos hier op aarde. ’n Skrikwekkende plaag het skielik van daardie dag af deel geword van die wêreld: sonde. En die dood ook. Alles is in een oogwink verwoes, verydel, omvergegooi, vernietig, bekrap. Een verkeerde keuse het die aarde in ’n diep moeras vol sonde ingesleep. 


Maar hoekom het God die mens gespaar? Na regte moes Hy die mensdom dadelik van die aardbol afgevee het. Maar in plaas daarvan het Hy hulle ’n tweede kans gegee. Hoekom? Omdat God ’n hart het, ’n hart vol liefde vir mense, maak nie saak hoe ver hulle val nie. God is die groot Genadeboer. Op sy hemelse plaas groei genade in oorvloed. En Hy deel sy oes oorvloedig uit aan stukkende mense, aan verkeerde-keuse-makers, sondaars, stukkendes, struikelendes, vallendes ... 


God se storie, sy groot verhaal met die mensdom, begin met genade. Genade is wat God die heel beste kan doen. Hy spesialiseer in tweede kanse, honderde kanse, tienduisende kanse, ad infinitum se voor- en oor-beginne! Vra maar vir die eerste mensepaar wat die miljoen kanse van ’n leeftyd om binne God se wil te leef deur hulle slap vingers laat val het. Vra maar vir Israel wat sondeverdwaald vir 40 jaar lank in die woestyn geploeter het. Vra ook vir Petrus, Paulus, Johannes, Martin Luther, die tannie daar op die hoek wat die Here liefhet. Vra jou dominee, die vriendelike kerkskoonmaker ... en jouself (?!) 


God se onverdunde genade het ’n Naam en ’n Adres gekry toe Jesus mens geword het. Hy is die Een wat hoop in ons wêreld indra, net Hy! Sonder Jesus is daar geen genade nie, geen lewe nie. Dan is alles nag, selfs ook in die dag. Daar waar Jesus se skaduwee en lig egter val, gee die donker haastig pad. Daar kom haastig nuwe lewe. Genade is om Jesus se lig te sien. Genade is om in die skuilte van die Here te kom wegkruip. Genade is ’n nuwe kans, ’n tweede kans, al is dit jou duisendste een. Genade is om oor en voor te begin met God. 

Dag 2

Aangaande hierdie leesplan

Vrygespreek

Hierdie dagstukkies herinner ons dat ons geloof gebou is op God se oneindige groot genade vir ons. In ‘n wêreld waar daar maar baie min genade te sien is, soms veral in die kerk, kom spreek God ons deur Jesus Christus vr...

More

Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://cumbooks.co.za/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid