Leesplan inligting

VrygespreekVoorbeeld

Vrygespreek

DAG 2 VAN 5

Jesus máák tweede kanse


Jesus vertel in Lukas 13 dat sy Vader se koninkryk soos ’n wingerd is. God is die Eienaar van hierdie wingerd, Jesus is die Tuinier, en ons is die vyeboom. Maar ons is in die moeilikheid. Ons is oortrek met blare, maar sonder ’n enkele vruggie. Ja, ons staan heeltemal nutteloos en verleë. Ons neem net spasie op. Die Eienaar is glad nie beïndruk met hierdie stand van sake nie. Natuurlik nie, want vrugtebome moet mos vrugte dra. Daarom gee die Eienaar net een opdrag aan sy Tuinier: “Kap dit uit!” 


Die goeie nuus: Daar’s ’n Tuinier aan die werk. Hy kry onmoontlike dinge reg. Hy het die mag om die Eienaar te oorreed om ’n bonusjaar toe te staan sodat daardie einste vrugtelose boompie voorkeurbehandeling kan kry. Jesus spesialiseer in genade. Net Hy kry uitstel en afstel by God. Jesus alleen kan die vuur doodblaas. Hy alleen kan die byl teen die vrugtelose boompie se stam vir altyd stop. 


Jesus het gekom om die hemelse oordeelsvuur te blus, nie om nog ’n hoop brandende kole daarop te gooi nie. Hy het gekom om vir vrugtelose bome ’n tweede kans te gee. Hoor mooi: Jesus kom maak self ’n tweede kans. Tot op daardie tydstip het die Eienaar aan die boompie drie jaar kans gegee. Maar nou bring Hy sy Tuinier saam, ’n unieke Tuinier, Een wat nie bloot aan onvrugbare bome kanse gee nie (dan is dit die boompie se skuif), maar wat self die kans maak. 


Met Jesus se koms het daar ’n dramatiese skuif in die hemel se genadestrategieë plaasgevind. Van toe af gee God nie meer tweede kanse nie. Nee, Hy máák nou tweede kanse. Die onus verskuif van mense na die Tuinier toe. Nou vat God nie meer kanse met ons nie; nee, nou maak Hy elke kans. 


Kom sit jou wavrag vol sondes aan die Here se voete neer. Weet dan: God se genadesluise gaan uit die hemel oor jou oopgetrek word. Van kop tot tone gaan genade jou in ’n oogwink oorrompel en oorspoel. ’n Vloedgolf goedheid gaan jou vir altyd skoon was. God is nóóit doof wanneer mense genade by Hom kom bedel nie. Elke keer hoor en verhoor Hy sondaars wat genade by Hom kom afsmeek, want Hy is immers die genadige God. Genade is wat Hy die heel beste kan doen.  

Dag 1Dag 3

Aangaande hierdie leesplan

Vrygespreek

Hierdie dagstukkies herinner ons dat ons geloof gebou is op God se oneindige groot genade vir ons. In ‘n wêreld waar daar maar baie min genade te sien is, soms veral in die kerk, kom spreek God ons deur Jesus Christus vr...

More

Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://cumbooks.co.za/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid