Leesplan inligting

Oordenking: Bid vir lande regoor die wêreldVoorbeeld

Around the World Prayer Devotional

DAG 6 VAN 30

Vryheid en Geloof in die Aangesig van Vrees


Die Verenigde State van Amerika het 'n wêreldwye reputasie dat hulle 'n land van vryheid, geleentheid en welvaart is. Die land staar tans 'n krisis van geestesgesondheid, soos baie mense dit noem, in die gesig. Volgens die nie-winsgewende organisasie "Mental Health America", lei meer as veertig miljoen Amerikaners aan een of ander soort angsversteuring. Die getal is selfs meer ontstellend as 'n mens spesifiek kyk na kinders en jongmense, waarvan baie vanaf 'n vroeë ouderdom 'n stryd met geestesgesondheid voer. 


'n Mens kan maar sê dat hulle deur 'n gees van vrees geteister word. Hulle voel vasgevang daarin, selfs verlam en is nie in staat om te ontsnap uit die houvas wat dit op hulle lewens het nie. Die kenners verwys na 'n aantal faktore wat bydra tot angsversteurings, van biologies en geneties tot eetgewoontes en sosiale omstandighede. Dis alles dinge om in ag te neem in 'n poging om die angsepidemie te oorkom en ons behoort mense wat sukkel met hul geestesgesondheid aan te moedig om mediese of sielkundige hulp te kry. 


In die verhaal van Adam en Eva in die tuin van Eden, kan ons tot 'n mate insig in die probleem van menslike vrees kry. In Genesis 3 lees ons dat Adam en Eva se eerste reaksie teenoor God, nadat hulle van die vrug van die boom van die kennis van goed en kwaad geëet het, was om bang te wees (Genesis 3:10). Die sonde en gebrokenheid in ons lewens lei tot skuldgevoelens, skaamte en verwydering van God, wat die Bron van lewe is. 


Die Bybel is vol goeie nuus vir diegene van ons wat deur vrees geteister word. Paulus het vir die gemeenskap in Rome gesê: “Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie” (Romeine 8:1). Na aanleiding hiervan het hy gesê: “Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie en laat julle nie weer in vrees lewe nie; nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: “Abba!” Dit beteken Vader” (Romeine 8:15). Ons hoef nie meer bang te wees vir die dood, veroordeling of enige ander gevolg van sonde nie, want ons is kinders van God en God het sy liefde vir ons bewys deur sy Seun te stuur om ons van sonde te verlos. Die dissipel Johannes het as volg geskryf: “Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees ...” (1 Johannes 4:18a). Die volmaakte liefde waarvan hy praat, is die liefde van God wat in Jesus se dood en opstanding geopenbaar is.


Daar is hoop vir diegene wat daarna smag om vry van die slawerny van vrees te wees. God wil ons verlos van die mag van sonde en die vrees wat ons lewens beheer. Ons het Hom nodig om ons vrees te vervang met 'n geloof wat glo dat Hy goed is. 


Daar is definitief baie mense regoor die wêreld wat medici nodig het om hulle te help om die verlammende gevolge van angs en vrees te oorkom. Mense behoort nie veroordeel te word omdat hulle sulke hulp soek wat hulle in staat stel om in die volle vryheid wat Jesus gee te leef nie. Hy is die groot geneesheer en net Hy kan in elke behoefte voorsien wat ons het. Die getuienis van die psalmdigter kan seer sekerlik dieselfde vir almal wees: “In gebed het ek die Here gevra om my te help en Hy het dit gedoen” (Psalm 34:5).


Gebedsversoeke


· Bid vir die geestesgesondheid van mense in jou land en regoor die wêreld, en dat hulle die hulp en ondersteuning mag kry wat hulle nodig het.
 
Dag 5Dag 7

Aangaande hierdie leesplan

Around the World Prayer Devotional

Welkom by jou groot avontuur! Deur middel van hierdie oordenkings gaan ons deur die wêreld reis en waarhede in die Woord van God ontgin. Ons toergidse is vriende van die uiteenlopende netwerk van "OneHope" se wêreldwye v...

More

Ons wil graag vir OneHope bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://onehope.net/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid