Leesplan inligting

Wandel in die Heilige GeesVoorbeeld

Walk in the Holy Spirit

DAG 1 VAN 5

Daar was 'n man wat van geboorte af verlam was. Sy mense het hom elke dag by 'n tempelpoort, Mooipoort, neergesit om by tempelgangers te bedel (Handelinge 3:1-26). Alhoewel hierdie verlamde man bene gehad het, kon hy sedert sy geboorte nooit loop nie. Hy is dus met bene gebore, maar het sy lewe gevoer deur te kruip en rondgedra te word. 



Soos jy weet, toe ons gelowiges geword het, weergebore is, het God die Heilige Gees aan ons as 'n gawe gegee. Dit is soos om bene te hê. Om egter in die Heilige Gees te wandel, kom nie outomaties met jou geestelike geboorte nie. Net so kan ons nie met fisieke geboorte loop nie. Ons moes leer om te loop. Sommige neem langer om te kan loop as ander. Die eerste paar treë was maar moeilik. Ons het geval en gehuil. Ons het op volwassenes wat reeds kon loop staatgemaak om ons te leer en geduldig met ons te wees. Vandag is loop sommer onwillekeurig. Alle Christene het die Heilige Gees, maar die Heilige Gees het nie al die Christene nie. Al die gelowiges ontvang die Heilige Gees met hul bekering, maar om met die Heilige Gees vervul te word, gebeur eers met oorgawe. 



Al het die verlamde man bene gehad, kon sy bene hom nie dra nie. Dis soos 'n gelowige wat die Heilige Gees het, maar die Heilige Gees doen niks in die persoon se lewe nie. So 'n persoon se lewe kan opgesom word deur sy vermoë om in die vleeslike te funksioneer. Daar is egter baie min bonatuurlik in die persoon se lewe — alle werk gebeur met baie moeite. Die persoon ontken nie die Gees nie, maar lewe net sonder om op Hom staat te maak. Daar is dus baie min resultate. Die persoon se lewe is moeilik en soms uitputtend. Ons as gelowiges was nooit veronderstel om die gewig van die lewe of sy swaar verantwoordelikhede alleen te dra nie. Ons ontvang die Gees om ons te help met gebed, met die lewe en met bediening. Hy is in staat om die las by ons oor te neem. As ons dus nie in die Gees wandel nie, sal ons in die vlees wandel. Ons sal in die vlees swoeg en sweet. Jesaja 40:31 sê: "maar dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie." As ons dus nie leer om in die Gees te wandel nie, sal die lewe soos 'n swaar juk word en bediening 'n moeilike las.



Hierdie verlamde man het gesit in plaas daarvan om te spring en gebedel in plaas daarvan om God te loof en prys. Trouens, hy het aalmoese gevra, maar wat hy eintlik nodig gehad het was om te kan loop. Petrus en Johannes het hom geen aalmoese gegee nie, maar hulle het hom in die krag van God laat opstaan en hy het begin loop. Al het hy begin loop, was sy finansiële toestand nog steeds dieselfde. Die feit is, sy uiterlike omstandighede het nie verander nie, maar hy het begin jubel, God geprys en die tempel binnegegaan. Hierdie wonderwerk het baie mense tot geloof gelei. 



Miskien sit jy nou by die hek van jou tempel en soek werklik na die krag van God. Ek sou graag wou hê dat jy jou fokus van die krag van God af na die teenwoordigheid van die Heilige Gees in jou verskuif. Hy is reeds in jou. Nou moet jy net in die Gees wandel. Dit sal jou hele lewe en bediening verander. Net soos Johannes en Petrus die verlamde man gehelp het, wil God vandag in hierdie leesplan vir my gebruik om jou te help om ook in die Gees te wandel. 



Petrus en Johannes het nie vir die verlamde man bene gegee nie; hulle het slegs iets geaktiveer wat hy reeds gehad het. Ek kan jou ook nie die Heilige Gees gee nie. Jesus gee die Heilige Gees, maar God kan die volgende paar dae gebruik om 'n verhouding te verhaas, om jou aptyt vir gemeenskap te wek en jou honger na die persoon van die Heilige Gees te verdiep. Jy dink dalk jy het aalmoese nodig, maar wat jy werklik nodig het, is om te kan loop. Dit is die grootste gawe — om die Heilige Gees te ken en 'n verhouding met Hom te hê. 



Gebed: 



Vader, onderrig my daarin hoe om met my mentor, my metgesel, my helper, my trooster en my vriend, die Heilige Gees te wandel en te lewe. 


Dag 2

Aangaande hierdie leesplan

Walk in the Holy Spirit

Die Heilige Gees het die vergete God geword. Ons moet nie vergeet dat die Heilige Gees die Skrif geïnspireer het nie, maar die outeur is altyd groter as sy boek. Terwyl Jesus op aarde was het Hy op die Heilige Gees staat...

More

Ons bedank graag vir Hungry Generation wat hierdie leesplan voorsien het. Vir verdere inligting, besoek asseblief: http://www.vladimirsavchuk.com

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid