HANDELINGE 3:1-10

HANDELINGE 3:1-10 AFR83

Een middag om drie-uur, die tyd van die gebed, was Petrus en Johannes op pad tempel toe. Net toe word daar 'n man aangedra wat van sy geboorte af lam was. Sy mense het hom elke dag by die tempelpoort wat Mooipoort genoem is, neergesit om by die tempelgangers te bedel. Toe hy vir Petrus en Johannes sien, net voor hulle in die tempel ingaan, het hy van hulle iets gevra. Petrus en Johannes kyk hom toe stip aan, en Petrus sê: “Kyk na ons.” Toe kyk die man na hulle in die hoop dat hy iets van hulle gaan kry. Maar Petrus sê: “Geld het ek nie; maar wat ek het, gee ek vir jou: in die Naam van Jesus Christus van Nasaret, staan op en loop!” Hy vat toe die man se regterhand en help hom op, en onmiddellik het sy voete en enkels sterk geword. Hy het opgespring en regop gestaan, en hy kon loop. Daarna het hy saam met hulle in die tempel ingegaan terwyl hy geloop en gespring en God geprys het. Al die mense het gesien dat hy loop en God prys; maar toe hulle besef dat dit hy is wat voor die tempel by die Mooipoort gesit en bedel het, was hulle baie verbaas en verwonder oor wat daar met hom gebeur het.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid