Leesplan inligting

Nie Bang Nie: Hoe Christene op Krisisse kan ReageerVoorbeeld

Not Afraid: How Christians Can Respond to Crises

DAG 3 VAN 5

Ons is opofferend, nie selfsugtig nie. 



In die nadraai van pandemies, natuurrampe of ander krisisse, is dit natuurlik om voorrade te wil opgaar en aan jouself te dink. En hoewel dit beslis nie verkeerd is om jouself en jou gesin, as volgelinge van Jesus, te beskerm en vir hulle te voorsien nie, word ons geroep om opofferend te wees, nie selfsugtig nie. 



Kyk wat Paulus daaroor geskryf het: 



"Moet niks uit selfsug doen of om daarmee te spog nie. Wees eerder nederig deur van medegelowiges meer te dink as van jouself. Julle moenie net elkeen na sy eie belange omsien nie, maar ook na mekaar se belange. Julle gesindheid moet soos Jesus Christus s’n wees." Filippense 2:3-4 NLV



As ons sê dat ons Jesus volg, maar ons lewens nie soos Jesus s'n lyk nie, moet ons onsself afvra of ons Jesus regtig volg. 



In krisistye sal baie mense op hulself ingestel wees. Hulle sal voorrade opgaar, hulself onttrek en hul hulpbronne ophoop. Daar is niks verkeerd daarmee om voorbereid te wees nie, maar as die liggaam van Christus behoort ons ander eerste te stel. 



Daar is 'n verskil tussen verstandige voorbereiding en selfsugtige opgaar. As daar 'n pandemie of nood in ons omgewing is, moet ons die riglyne van ons regerings- en gesondheidsbeamptes noukeurig volg. Jy moet beslis na wyse raad luister en jouself en jou geliefdes voorberei. Ons kan egter nie onsself ten koste van ander dien nie. 



Dink net aan die vroeë kerk. Hulle het gedurig bymekaargekom. Hulle het eiendom en persoonlike besittings verkoop sodat hulle in hul gemeenskap se behoeftes kon voorsien. Dit het nie oor die kerkgebou gegaan nie. Dit het oor die mense gegaan. 



Ons, as volgelinge van Jesus, is die kerk. Ongeag wat in die wêreld rondom ons gebeur, word ons geroep om die voortou te neem in onmeetbare vrygewigheid. Ons word geroep om die kerk te wees deur die mense om ons lief te hê soos Jesus dit sou doen. 



Ons deel met diegene in nood. Ons is gereed om te doen wat goed is. Ons dink aan ander voor onsself.



Jesus was nie selfsugtig nie. Hy was opofferend. Hy het sy lewe prysgegee sodat ons ons lewe kon vind. As sy volgelinge neem ons die voortou — veral in noodgevalle — deur opofferend te wees, nie selfsugtig nie. 



Bid: Dankie God, dat U vir Jesus gestuur het as die perfekte offer vir ons sondes. Help my om daardie voorbeeld te volg deur opofferend te lewe, nie selfsugtig nie. God, openbaar aan my enige geleenthede waar ek ander kan dien en u liefde kan deel. In die Naam van Jesus, amen. 


Dag 2Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

Not Afraid: How Christians Can Respond to Crises

As 'n krisis in ons wêreld plaasvind, is dit maklik om ons geloof te bevraagteken, en is dit moeilik om die paniek wat ons ondervind te vervang met die vrede wat ons as volgelinge van Jesus beloof is. In hierdie vyf-dag ...

More

Baie dankie aan Life.Church wat hierdie leesplan aan ons voorsien het. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.life.church/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid