Leesplan inligting

Die boek 1 Korintiërs met Jennie Allen: ’n Video-BybelstudieVoorbeeld

Die boek 1 Korintiërs met Jennie Allen: ’n Video-Bybelstudie

DAG 4 VAN 5

Dien soos Jesus


“Kyk, Mamma!” sê die driejarige dogtertjie wat op die koffietafel staan in haar prinsesrok, met ’n haarborsel as mikrofoon. Sy sing graag, maar nie sonder ’n gehoor nie!


“Kyk vir my, Mamma!” Dit maak nie saak hoe oud ons word nie, ons begeerte om raakgesien en waardeer te word, verdwyn nooit nie, alhoewel ons probeer om bietjie meer gesofistikeerd op te tree. Ons het ’n heldeverering vir enigiemand wat met talent of prestasie beroemd (of berug) raak. In die kerk verafgood ons ons sangers, outeurs en predikante en ons vertrou hulle gesag in ons lewens. As so-en-so 'n skrywer dit gesê het, moet dit waar wees. Daardie predikant preek so dinamies – hy is seker super-geestelik.


Hierdie tipe verering lei ons langs twee paaie: ons voel dalk onvoldoende in vergelyking, aangesien ons gawes ons nie sterstatus besorg het nie. Of ons beweeg van bewondering tot jaloesie, want ons wil ook graag hierdie gawes hê om soortgelyke aandag te kan kry.


Hierdie selfgesentreerde neigings is niks nuut nie. In ons skriflesing van vandag, sien ons dat die Korintiese Christene ook aan “kyk na my”-sindroom gely het. Dit blyk dat hulle die meer sigbare gawes met gesag wou hê. Dié met gawes wat nie aandag getrek het nie, is geïgnoreer en oorgesien. Die Korintiërs het in die slaggat getrap van die eeue-oue versoeking dat groter beter is, die openbare oog beter as agter-die-skerms.


Ego is steeds ’n kwessie.


Paulus se brief moedig ’n ander perspektief aan: eenheid. Hy herinner hulle dat hul gawes, alhoewel dit baie van mekaar verskil, van dieselfde God kom. Dieselfde Gees het vir hulle baie gawes gegee sodat hulle dieselfde God kan dien. En dis dieselfde God wat alles in almal tot stand bring. (12:4–6)


Elkeen se bediening in die kerk lyk anders van persoon tot persoon, maar ons talente en vaardighede kom van dieselfde God vir dieselfde doel: “tot voordeel van almal” (12:7). Wanneer Paulus die kerk met ’n menslike liggaam vergelyk, pas hy ’n universele illustrasie op die situasie toe: die hele liggaam ly daaronder as een deel seerkry. (Het jy al ooit ’n been gebreek of het iets al in jou oog gesteek? Dink aan hoe die res van die liggaam reageer wanneer een deel seerkry.) Soos die dele van ons liggame aan mekaar verbind is en van mekaar afhanklik is, so is dit ook in die kerk.


Paulus herinner die Korintiërs dat liefde die kenmerk van die nuwe kerk is. En liefde, soos ons in hoofstuk 13 sien, plaas ander voor die self. Ons is veronderstel om die gawes wat ons van die Gees ontvang, tot voordeel van ander te gebruik – sodat hulle kan groei, gehelp en aangemoedig kan word. Wanneer ons kan onthou dat ons geestelike gawes bedoel is tot voordeel van ander, sal dit ons help om die verleidelike kollig op die verhoog te vermy.


Jesus het oor homself gesê: “Die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense.” (Markus 10:45) As ons soos ons Verlosser wil wees, moet ons met nederigheid dien tot voordeel van ander. As ons gawes ons op die verhoog laat beland, erken ons die God wat ons daartoe in staat stel. As dit ons na agter die skerms stuur, prys ons Hom omdat hy ons bemagtig om ten volle vir die koninkryk te kan werk. Deur ons oë weg van onsself en op ander te hou, vloei sy liefde deur ons en die liggaam van Christus kan floreer.


In plaas van “Kyk na my!” sê ons: “Kyk na Jesus!”

Dag 3Dag 5

Aangaande hierdie leesplan

Die boek 1 Korintiërs met Jennie Allen: ’n Video-Bybelstudie

Christenskap vereis opoffering van ons. Ons moet kies tussen ’n lewe vir onsself of vir Christus. Paulus het hieroor geskryf aan mense wat selfgesentreerd geleef het. Hy herinner hulle daaraan om Jesus te volg. In hierdi...

More

Ons wil graag RightNow Media bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://za.rightnowmedia.org/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid