Leesplan inligting

Die boek 1 Korintiërs met Jennie Allen: ’n Video-BybelstudieVoorbeeld

Die boek 1 Korintiërs met Jennie Allen: ’n Video-Bybelstudie

DAG 3 VAN 5

Respekteer ander soos Jesus


Dankseggingsdagmaaltye in Amerika bring families bymekaar vir ’n heerlike aandete van ham of kalkoen. Maar hierdie maaltye word dikwels ook spektakels – die puntenerige tannie wat nog kan onthou hoe sy beter kon kook, die oom wat nie sy politieke agenda vir homself kan hou nie, die groeiende seun wat sy vierde bord kos skep. Soms pas die maniere nie by die geleentheid nie.


Familiedramas is blykbaar niks nuut nie.


In die kerk van die eerste eeu, het gelowiges dikwels bymekaargekom vir aanbidding en lering en dit het dikwels met ’n ete gepaard gegaan. Die doel van hierdie gereelde byeenkomste was om die deelnemers aan te moedig en om lering te ontvang in Jesus se woorde. Die gemeenskaplike maaltyd was soos ’n bring-en-braai: almal bring iets om te deel. Op ’n stadium sou hulle stop om Jesus te onthou, die ongesuurde brood en wyn omstuur en met respek en aanbidding aan die nagmaal deelneem.


Die kerk in Korinte het ’n wye spektrum van die samelewing ingesluit. Rykes, armes, slawe, vroue, grondeienaars, politici, bedelaars – almal was welkom in Jesus se familie. In Christus was hulle gelyk – ’n beginsel wat nie met die samelewing van daardie tyd se reëls ooreengekom het nie. By hierdie maaltyd het gelykheid ’n werklikheid geword. Die sakeman het langs ’n bedelaar gaan sit, ’n ryk vrou langs ’n slaaf. Maar steeds het die Christene in Korinte gesukkel om ou gewoontes te laat vaar.


Die mense in Korinte het graag partytjies gehou. Hulle het met entoesiasme gekuier en luidrugtig gepraat. By hulle feeste het party mense geëet tot hulle nie meer kon nie en ander het honger gely. Mense het dronk geraak en sonder enige respek vir ander opgetree. Chaos en losbandigheid was aan die orde van die dag.


Paulus was nie gelukkig hieroor nie. Hy vermaan die kerk oor hul gebrek aan liefde en respek. ’n Gebeurtenis met die doel, om die eenheid wat Christus beveel het te versterk, het ontaard in ’n oefening van selfsug en klasseverskille. Die armer mense het dikwels honger huis toe gegaan as gevolg van die vraatsug van die rykes. Paulus draai nie doekies om nie: “Het julle dan nie huise waar julle kan eet en drink nie? Of het julle nie eerbied vir die gemeente van God nie, en wil julle die armes verneder?” (11:22)


Paulus het aangedring op wedersydse respek tussen die lede en respek vir die maaltyd self. Met meesterlike taalgebruik, gebruik hy die woorde “die liggaam en die bloed van die Here” (vers 27), om te verwys na die brood en die wyn wat Jesus verteenwoordig, en die kerk as die liggaam van Christus. Hy moedig die Korintiërs aan om so op te tree dat hulle eervolle respek betoon aan Jesus en sy liggaam.


Ons bedien nie gewoonlik die nagmaal by ’n bring-en-braai nie, maar Paulus se aanmaning aan gelowiges om anders as die wêreld op te tree, is steeds geldig. Watter gewoontes uit jou ou lewe moet jy laat staan? Hoe weerspieël jou optrede – of dit in die kerk, by die werk, by die huis, op straat of in ’n winkel is – jou verbintenis aan Jesus? Leef so dat die mense om jou kan sien dat jy respek aan ander betoon.

Dag 2Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

Die boek 1 Korintiërs met Jennie Allen: ’n Video-Bybelstudie

Christenskap vereis opoffering van ons. Ons moet kies tussen ’n lewe vir onsself of vir Christus. Paulus het hieroor geskryf aan mense wat selfgesentreerd geleef het. Hy herinner hulle daaraan om Jesus te volg. In hierdi...

More

Ons wil graag RightNow Media bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://za.rightnowmedia.org/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid