Leesplan inligting

Ongewone RaadVoorbeeld

Atypical Advice

DAG 3 VAN 6

Moenie van God vergeet nie.



Soms staar ons skynbaar onmoontlike take in die gesig. Hoërskool het ons vir seker nie geleer hoe om vir 'n beurs aansoek te doen, 'n belastingvorm in te vul, of om vir jou aftrede voorsiening te maak nie! Dis ook regtig moeilik om kosinkopies te doen — wanneer is 'n avokado ryp? Moet 'n tamatie stewig voel? Ek sien party mense ruik aan vrugte, moet ek ook? Om nie eens te praat van romantiese afsprake of die gesukkel om nuwe vriende te maak nie. Die wêreld van grootmense is moeilik. Die lewe is moeilik. Daar is baie struikelblokke, toetse en situasies wat onoorkomelik voorkom. 



Wanneer iemand Daniël (van die Bybel) se naam noem, dink die meeste mense aan "Daniël in die leeukuil". Dis 'n wonderlike verhaal. Voor hy nog in die leeukuil beland het, het Daniël egter al iets gedoen wat onmoontlik gelyk het. 



Die verhaal gaan kortliks so: Koning Nebukadnesar het 'n ontstellende droom gehad en verskeie mense gevra om dit uit te lê — sterrekykers, towenaars, waarsêers en nog baie ander. Hy wou nie vir hulle sê wat hy gedroom het nie. Hulle moes hom eers vertel wat in sy droom gebeur het en dan 'n uitleg gee. 



Alhoewel die taak onmoontlik gelyk het (Daniël 2:11), was dit ook belangrik. Die koning het gesê as niemand hom kon vertel wat hy gedroom het en wat dit beteken nie, sou almal doodgemaak word. Die sterrekykers het aan die koning probeer verduidelik hoe onmoontlik die taak was, maar dit het hom net nog kwater gemaak en hulle lot beseël. 



Die koning het 'n wet uitgevaardig dat almal wat nie die droom kon uitlê nie, doodgemaak moes word en Daniël was hierby ingesluit. 



Weet jy egter wat Daniël se brokkie wysheid was? God kan dit doen, al kan ons nie. 



In plaas daarvan om paniekerig te raak, of om op homself te fokus en hoe hy nie in staat was om uit te lê wat die koning gedroom het nie, het Daniël na die Een gegaan wat hy geweet het dit kan doen — God. Hy het drie van sy vriende gevra om te bid en hyself het heelnag gebid, en God vir 'n openbaring gevra en om sy hulp gepleit. 



God het hom gehelp. Niks is vir God te moeilik nie en niks is vir Hom onmoontlik nie. God kan doen wat mense nie kan doen nie. Daniël het dit geweet. Toe hy vir die koning sy droom gaan vertel en dit uitlê, het hy al die erkenning aan God gegee (Daniël 2:27-30). 



In Die Boodskap vertaling, verwys Daniël na God as die "Die God wat sulke geheime bekend kan maak" (Daniël 2:29-30). Dalk is jy nuut in 'n dorp en weet nie hoe om by 'n gemeenskap in te skakel nie. Dalk sukkel jy met jou finansies en is onseker hoe jy sal klaarkom. Dalk sukkel jy met jou gesondheid en is onseker of jy gesond sal word en herstel. 



God kan vir jou openbarings gee. Hy kan direk met jou praat, of deur iemand anders, en Hy kan dit wat vir jou onduidelik is, verklaar. Vra Hom net (dit mag dalk meer as net een gebed verg). 



Wat jou situasie ook al is, kies 'n bladsy uit die boek Daniël en bid. Bid, huil aan die Vader se voete, en vra jou vriende om dieselfde te doen. Daniël het vir seker nie alleen gebid nie. 



Al verander jou gebed nie oombliklik jou omstandighede nie, sal dit jóú verander. Al kom die openbaring nie dadelik nie, sal gebed jou vrymaak. Daar is krag in gebed. Daar is krag in 'n vriendekring. En daar is krag in die Naam van Jesus. 



Oordink: Wat in jou lewe lyk op hierdie oomblik onmoontlik? Het jy gebid en God gevra om jou te help om dit te bowe te kom? 



Bid: Baie dankie, Vader, dat U altyd na my luister. Ek is so dankbaar dat U, met al u krag en gesag, vir my omgee en my liefhet. Ek sukkel nou met ___ en verstaan nie hoe ______. Maar U is die Bekendmaker van geheime en ek vra U vir leiding en rigting. Dankie dat U saam met my hierdeur gaan. In Jesus se Naam, amen. 



Uitdaging: Probeer om #butGod aan die gang te kry. Plaas hierdie hutsmerk in jou opskrifte en deel hoe God iets skynbaar onmoontlik in jou lewe doen. 


Dag 2Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

Atypical Advice

Wat sou Dawid, Moses, Daniël, Petrus, Rut en Jesus vir Millenniërs en/of Generasie Z te sê hê? Vind uit in hierdie 6-dag leesplan waarin ons ongewone raad vanuit welbekende Bybelstories gee.

Ons wil graag Life.Church bedank vir die voorsiening van hierdie leesplan. Vir verdere inligting, besoek gerus: https://www.liefe.church/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid