Leesplan inligting

Hoop vir die leweVoorbeeld

Hoop vir die lewe

DAG 1 VAN 4

Lewe van Hoop


Oor die volgende vier dae gaan ons heel moontlik nie al die vrae wat jy het beantwoord nie, maar ons gaan die hoop in jou hart versterk sodat jy deur alle omstandighede kan loop. Die wêreld waarin ons leef het nie meer hoop nie. Ons kom dit agter in hoe mense praat. Wanneer jy hoop het leef jy NIE in negatiwiteit nie, maar is optimisties,  want daar is iets wat jou deur die moeilike tye help. 


Maar wat is hoop en hoe kan ek dit deel maak van my lewe?


Betekenis van HOOP:


• 'n gevoel van verwagting en begeerte dat 'n spesifieke ding moet gebeur.


• 'n gevoel van vertroue.




Hoop is ‘n verwagting, ‘n begeerte. Dit kan net daar wees wanneer daar vertroue in Iemand is. Hoop gee vir ons die vermoë om deur die storm te kyk en die uitkoms raak te sien, want daar is ‘n verwagting wat jou motiveer. Die vraag wat ons onsself moet afvra is wat vir my hoop in die lewe gee?


Baie mense plaas hulle hoop in goed wat nie ewigheidswaarde het nie. Hoop kan net standvastig wees wanneer die fondament standvastig is en nie beïnvloed kan word nie. Net soos geld waarde het deur die goud wat dit verteenwoordig, so het hoop ook iets wat dit waarde gee. Die vraag wat jy moet beantwoord is, “wat gee waarde aan my hoop?” 


1 Kor 15:12-22


Wanneer jy in moeilike omstandighede is en die Here jou ‘n belofte van oorwinning gee, dan skep jy moed, want jy weet dat God ‘n Waarmaker van sy woord is. Ons vertrou God. Moenie jou vertroue in God verloor nie.


God sê dan vandag vir elkeen van ons dat Hy vir ons ‘n toekoms gee wat met hoop gevul is (Jer. 29:11).


Koning Dawid wat vol hoop was, het ook deur moeilike omstandighede gegaan. Maar daar is een ding wat hy regdeur sy lewe gedoen het om die hoop te behou. Hy het God geprys!


Ons hoop word beïnvloed deur die manier hoe ons die Here aanbid. As Hy die fokuspunt van ons lewe is, gaan ons vol hoop wees. Herinner jouself aan WIE God is.


Ek glo wanneer ons so baie beloftes van God ontvang het, moet ons onsself net weer herinner aan wie God is. Aan wie ons is. God is God en ons is sy kinders. Prys God in jou lewe en die hoop sal weer soos ‘n fontein in jou lewe opspring. Aanbidding trek jou nader aan die Bron wat hoop gee.


Hoe doen ek dit dus prakties in my lewe? 


Ek berei myself in my gedagtes voor en begin leef soos iemand wat hoop het. Jou denke is die oorlogsveld en dit is waar ons die hopeloosheid moet neerlê en beveg.


Die winde sal waai en die golwe sal daar wees, maar ons moet alles in ons vermoë doen om die hoop as ‘n anker vir ons siele te gebruik. 


Laat die hoop in Christus ‘n anker vir jou wees. Hoe meer jy op Jesus fokus, hoe meer gaan hoop ‘n anker wees. Jou hoop is die anker en jou anker moet vasgryp aan iets wat so sterk soos ‘n rots is. Jesus is ons Rots. Dus moet jou hoop vasklou aan Jesus, ons Rots.


Ons hoop is in Jesus juis omdat Hy opgestaan het. Die feit dat Jesus lewe is die rede hoekom ons hoop het. Daar is Iemand waaraan ons kan vashou. Tye raak moeilik, maar dit is die hoop in Christus wat ons deurtrek na die anderkant toe. As ons geen hoop gehad het nie, dan sou ons ook nie wou lewe nie. Maar Jesus LEEF! Hoop is lewendig.


Hoop vir hierdie lewe word net in Christus gevind.

Dag 2

Aangaande hierdie leesplan

Hoop vir die lewe

Almal het hoop in die lewe nodig. Maar wat is hoop? En hoe gaan dit 'n verskil maak in my lewe as ek hoop het?

Ons bedank graag Lig & Lewe Sentrum vir die voorsiening van hierdie plan. Besoek gerus vir meer inligting: http://www.ligenlewe.com

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid