Leesplan inligting

Die PriesterskapVoorbeeld

Die Priesterskap

DAG 8 VAN 8

AÄRON EN SY SEUNS 


Ons het eers na Aäron alleen gekyk, nou gaan ons hom tesame met sy vier seuns behandel as tiperend van die priesterskap van al die gelowiges. Ons sien dat Aäron en sy seuns:



  • Geroep was (Eks 28:1). Net so, deur geloof in Christus, is ons geroep tot ’n “heilige priesterdom” (1 Pet 2:5). In die ware sin van die woord is alle gelowiges priesters van God. Daarom het ons geen spesifieke orde van mense as middelaars nodig om vir ons by God in te tree nie. As priesters, in onderworpenheid aan die Groot Hoëpriester (Heb 3:1), het ons toegang tot die Allerheiligste in die hemel deur Christus (1 Tim 2:5).

  • Gereinig was (Eks 29:4). Daar was ’n wettiese reiniging (Eks 29:11). Alleen op grond van die sondoffer en gestorte bloed kon hulle kwalifiseer om God te aanbid. Net so is dit in ons geval. Ons kan alleen deur die bloed van die Lam tot God se teenwoordigheid toetree om ons priesterlike diens te verrig (Op 1:5-6). Ook was daar ’n morele reiniging (Eks 29:4). Geen offer of diens kon verrig word sonder die wassing by die koperwaskom nie. Vir ons as gelowiges is daar ’n aanvanklike wassing van die wedergeboorte waarna Paulus in Titus 3:5 verwys. Dan is daar die voortdurende en daaglikse reiniging deur die Woord (Ef 5:25-26).

  • Bekleed was (Eks 28:40, 42). Aäron se seuns was met die volgende artikels beklee: 



  1. Rokke (Eks 28:40). Dit spreek van saligheid. Alleen wanneer ons met Christus se heil en geregtigheid (1 Kor 1:30) beklee is, kan ons voor God staan om diens te verrig. 

  2. Gordels (Eks 28:40). Die gordel spreek van diens. As geestelike priester moet ons altyd gereed wees om geestelike diens te verrig (Luk 12:35-36). 

  3. Musse (Eks 28:40). Die musse wys op onderdanigheid. So wil die Here hê dat ons elke gedagte, woord en daad tot gehoorsaamheid aan Christus moet bring.

  4. Linnebroeke (Eks 28:42). Die linnebroeke dui op die uitwissing van die self. Paulus vermaan die gelowiges om hulle met die Here Jesus Christus te beklee en om geen voorsorg vir die vlees en sy begeerlikhede te maak nie (Rom 13:14).



  • Toegewy was (Eks 29:9). Hierdie wydingseremonie word vir ons in Eksodus 29:10-36 beskryf. Dit behels persoonlike toewyding (Eks 29:15,18). Voordat ons as geestelike priesters God kan bedien, moet ons weet wat dit beteken om ons liggame as ’n lewende, heilige en aan God welgevallige offer te stel (Rom 12:1). Niks minder nie as die toewyding van al ons vermoëns en talente konstitueer “die hele ram op die altaar”.

  • Sedelike afsondering tot gehoorsaamheid (Eks 29:19-21). 


Ten eerste, die bloedbestrykte regteroorbel dui op ’n geopende oor om te hoor en te gehoorsaam wat God hulle beveel het om te doen. Net so is ons as ’n priesterdom afgesonder om te hoor en te gehoorsaam wat God vir ons deur sy Gees en die geskrewe Woord sê om te doen. Laat ons dus let op Christus se ernstige vermaning “Pas op wat julle hoor” (Mark 4:24) – wat ons hoor, is God se boodskap en nie dié van ’n mens nie. “Pas dan op hoe julle hoor” (Luk 8:18) – hoe ons hoor, dui op ons houding wat ons kan inneem nadat ons gehoor het wat God tot ons gespreek het. Daarom, “wie ’n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê” (Op 2:7).


Ten tweede, afsondering tot gewilligheid. Die bloedbestrykte regterduim wys op ’n gewillige hand wat ywerig en vlytig God se opdragte uitvoer. As ’n geestelike priesterdom is ons ook afgesonder tot die diens van die Here. As priesters moet ons altyd geestelike offers aan die Here bring. (1 Kron 29:5; Deut 16:16; Heb 13:15).


Ten derde, afsondering tot ’n geestelike wandel. Die bloedbestrykte regtergroottoon spreek van ’n haastige voet wat in die weë van geregtigheid wandel.


As ’n geestelike priesterdom is ons ook afgesonder om in die weë van die Here te wandel (1 Joh 1:7).  Ons het geen reg om ’n ander lewenswandel te handhaaf as dié van gemeenskap met die Here en van heiligmaking nie (Rom 8:8-15; 1 Kor 1:9; 2 Kor 6:14-18; 7:1).


Ons het nou gesien wat die roeping, reiniging, bekleding en toewyding van die priesters vir ons leer. As ’n koninklike en geestelike priesterdom (Op 1:5-6; 1 Pet 2:5, 9) moet ons so wandel dat ons Hom behaag wat ons geroep en afgesonder het. Elke gelowige in Christus het ’n hoër roeping, om as lid van ’n heilige priesterdom die lig en heerlikheid van God en Christus en die evangelie van Jesus Christus, deur voorbeeld, wandel en leer te laat skyn.


Vir meer inligting en studies oor die boeke van die Bybel, besoek Raymond Lombard Ministries 

Dag 7

Aangaande hierdie leesplan

Die Priesterskap

Tot hiertoe het ons die tabernakel bestudeer in verhouding tot sy struktuur en meublement (huisraadstukke) met die beklemtoning van die waarheid dat God na die mens toe gekom het. In hierdie leesplan gaan ons die prieste...

More

Ons wil graag Raymond Lombard Ministries bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.raymondlombard.com/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid