Leesplan inligting

Die PriesterskapVoorbeeld

Die Priesterskap

DAG 7 VAN 8

AÄRON EN SY GOD 


In die woorde van God aan Moses het ons eerstens Aäron se priesterlike aanstelling en tweedens Aäron se priesterlike bekleding.


Priesterlike aanstelling van Aäron. Die skrywer aan die Hebreërs herinner ons daaraan dat “elke hoëpriester wat uit die mense geneem word, tree ten behoewe van mense op in die dinge wat in betrekking tot God staan . . . en niemand neem die waardigheid vir homself nie, maar hy wat deur God geroep word, net soos Aäron” (Heb 5:1, 4). Die aanstelling of ordening van Aäron behels twee belangrike aanvangswaarhede, naamlik:



  • Aäron se reiniging (Eks 29:4). Nadat Aäron uit die volk geneem is, moes sy morele bevoegdheid en aanvaarbaarheid as God se hoëpriester in die openbaar gedemonstreer word. Net so is Christus deur die Vader aangestel as die Groot Hoëpriester (Heb 2:16-17). Christus se morele bevoegdheid om Hoëpriester te wees, het geskied net nadat Johannes die Doper Hom in die Jordaan gedoop het, dit was toé dat God uit die hemel gespreek en gesê het: “Dit is my geliefde Seun in wie Ek ’n welbehae het” (Matt 3:17).

  • Aäron se heiliging (Eks 29:7). Dit dien daarop gelet te word dat Aäron, nadat hy gereinig is, hier alleen met die olie gesalf is. Hier tipeer hy Christus as Hoëpriester. Later is hy saam met sy seuns gesalf (Lev 8:12-21, 30), waar hy die priesterdom van al die gelowiges in Christus voorstel (1 Pet 2:9). Van Christus kan ons sê: “Let op die Apostel en Hoëpriester van ons belydenis, Christus Jesus, wat getrou was aan Hom wat Hom aangestel het . . .” (Heb 3:1-2).

  • Priesterlike bekleding van Aäron (Eks 28:2). Sy besonderse klere het hom as hoëpriester onderskei en die gewydheid en heiligheid van sy amp beklemtoon.

  • Die rok (Eks 29:5). “Jy moet ook die rok van fyn linne kunstig bewerk” (Eks 28:39). Aäron se fyn linnerok (onderkleed) wys op Christus se sondelose volmaaktheid en geregtigheid (Heb 7:26; Op 19:8). Jesus Christus het Hoëpriester geword nadat Hy uit die dode opgestaan het. Ons sien Hom nou verheerlik in die hemel “met ’n kleed aan wat tot op die voete hang” (Op 1:13). Die woord wat vertaal word “tot op die voete hang” is poderes[SP1]  en is dieselfde woord wat in die Griekse Ou Testament (LXX of Septuaginta) gebruik word om die linnerok van die hoëpriester te beskryf (Eks 28:4; 29:5; Lev 16:4). Aäron se hoëpriesterlike rok van fyn linne wys ook op Christus as ons Hoëpriester in die hemel.

  • Die gordel (Eks 39:29). Die veelkleurige gordel spreek van Christus as Hoëpriester in sy dienswerk (Op 1:13). Christus as ons Hoëpriester tree ten behoewe van ons by God in (Ef 4:11-16; 2:4-7; Heb 7:25).

  • Die mantel (Eks 28:31-35). Die mantel as bokleed is bo-oor die wit rok aangetrek en was van een stuk geweef sonder moue, met ’n opening vir die hoof in die middel daarvan (Eks 39:22-23). Dit was korter as die rok, maar langer as die skouerkleed. Aan die soom daarvan was daar granaatjies van pers, purperrooi en bloedrooi stowwe van fyn dubbeldraadlinne (Eks 39:24). Tussen elke granaatjie was ’n klokkie van suiwer goud (Eks 39:25-26). Hierdie mantel is net deur Aäron as hoëpriester gedra en nie deur sy seuns as gewone priesters nie. Die goue klokkies het gelui wanneer die hoëpriester geloop het. Dit het aan die volk wat buite in afwagting gestaan het, getuienis gegee dat die hoëpriester nog leef en dat hy besig is om vir hulle versoening by God te verkry. So spreek die goue klokkies dan van Christus se volmaakte voorspraak vir ons by God (1 Joh 2:1-2) in die hemel. Ons sien dat die eerste dissipels dan ook tot op die dag van Pinkster gewag het vir bevestiging dat Jesus vir hulle by God intree (Luk 24:46-51; Hand 1:4-5, 12-14; 2:1-4, 32-33).

  • Die skouerkleed (Eks 28:6-14; 39: 2-7). Die volk kon nie die heilige teenwoordigheid van God betree nie. Tog het hulle deur middel van hul hoëpriester, wat hulle name op sy skouer gedra het, toegang tot God gehad. So bring Jesus Christus, ons volmaakte Middelaar en Hoëpriester wat altyd leef om vir hulle (ons) in te tree (Heb 7:24-25), ons name (Matt 10:32), ons belange, sorge en behoeftes voor God ons Vader (Ps 55:23; 1 Pet 5:7).


Die twee oniksstene op die skouerkleed het die name van die kinders van Israel voor God in gedagtenis gebring. Dit was dus twee gedenkstene. Oniks beteken “om met die glans van vuur te skyn”. Jesus Christus ons Hoëpriester beloof: “Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om te eet van die verborge manna en Ek sal hom gee ’n wit keursteen, en op dié steen ’n nuwe naam geskrywe wat niemand ken nie, behalwe hy wat dit ontvang” (Op 2:17). Baie insiggewend is die feit dat in die nuwe orde wanneer die nuwe Jerusalem uit die hemel neerdaal (Op 21:2), sal gesê word die tabernakel van God is by die mense (Op 21:3), en sal die name van die twaalf stamme van die kinders van Israel op die twaalf poorte wees (Op 21:12), en die name van die twaalf apostels van die Lam sal op die twaalf fondamente van die stad wees (Op 21:14). Dus behoort die nuwe Jerusalem aan Israel en die Kerk (gemeente).



  • Die borstas (Eks 28:15-30). Die hoëpriester het die name van die kinders van Israel in die borstas van beslissing op sy hart gedra en hulle so voor die Here in gedagtenis gebring. In die hoëpriester se borstas van beslissing was die Urim en die Tummim, die middele waardeur hy die goddelike wil in besonderse gevalle verkry het (Num 27:21; Deut 33:8; 1 Sam 28:6; Esra 2:63). Die Urim en Tummim het te kenne gegee dat die hoëpriester, met sy borstas aan, toegerus is met die gesag om in noodgevalle God se beslissing rakende die volk te kan gee. Urim is lig en Tummim is volkomendheid. Die vorm van die twee voorwerpe is vir ons onbekend. Op een of ander wyse is in besondere gevalle ’n uitspraak van die Here verkry. In Christus ons Hoëpriester se uitsprake of sy Woord, het ons die middel waardeur ons die lig en volkome openbaring van sy wil en weg met ons het (Joh 17; 2 Tim 3:16-17).

  • Die tulband en die plaat (Eks 28:36-39). Die hoëpriester was met ’n tulband van fyn linne gekroon. Voor op die tulband was ’n goue plaat met die woorde “HEILIG AAN DIE HERE” daarop gegraveer. Dit was die kroningstuk van die priesterlike gewaad van heerlikheid en prag (Eks 29:6). Wanneer Aäron in die teenwoordigheid van God gekom het, het die Here die kroon “HEILIG AAN DIE HERE” gesien en op grond daarvan hom ontvang. So kon Aäron dan die skuld van die volk m.b.t. hul gebrekkige offers en gawes voor die Here bring en vir hulle intree, sodat hulle voor die aangesig van die Here welgevalle kon vind.


Aäron se bekroning met heiligheid of algehele afsondering tot God is tekenend van Christus wat ons skuld dra m.b.t. ons gebrekkige offers en dienste en deur Wie alleen ware versoening en reiniging van sonde bewerk kon word by God (Heb 2:17; 4:15-16; 7:24-28), sodat ons gebrekkige geestelike offers by God aanneemlik kan wees (Ef 1:6).

Dag 6Dag 8

Aangaande hierdie leesplan

Die Priesterskap

Tot hiertoe het ons die tabernakel bestudeer in verhouding tot sy struktuur en meublement (huisraadstukke) met die beklemtoning van die waarheid dat God na die mens toe gekom het. In hierdie leesplan gaan ons die prieste...

More

Ons wil graag Raymond Lombard Ministries bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.raymondlombard.com/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid