Leesplan inligting

Die PriesterskapVoorbeeld

Die Priesterskap

DAG 5 VAN 8

WANNEER HET HIERDIE HOËPRIESTERSKAP VAN JESUS BEGIN?


Ons vind ʼn baie besonderse verklaring in Psalm 110. Eers die verklaring van die HERE (Jahweh) aan Jesus in vers 1. “Sit aan my regterhand, totdat Ek u vyande maak ʼn voetbank vir u voete” en verder lees ons “die Here het gesweer en dit sal Hom nie berou nie: U is priester vir ewig volgens die orde van Melgisédek” (vers 4).


Histories begin Psalm 110 met die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Sien Handelinge 2:33, 7:56, Hebreërs 10:11-13 sowel as Hebreërs 7:25-28 as vervulling van die tipe van Melgisédek in die persoon van Christus ná sy opstanding uit die dood.


Ons sien dus in die Nuwe Testament dat die Here (Adonai) van Psalm 110 Jesus Christus is. Ook word daar van Hom gesê:



  • Psalm 110:1 – Sit aan my regterhand. Ons weet uit die Skrifte dat die enigste Een wat ooit genooi is om aan die regterhand van die Vader te sit, Jesus Christus is.

  • Psalm 110:1 – Totdat Ek u vyande maak ʼn voetbank vir u voete. Dit kan eers gebeur wanneer Jesus verhef word tot die regterhand van die Vader. En wag (Hy) nou verder totdat sy vyande gemaak is ʼn voetbank van sy voete (Heb. 10:13). Jesus is dus nou in die hemel en wag dat dit gebeur tot op die dag van sy heerlike sigbare wederkoms vanuit die hemel, wanneer alles en almal aan Hom onderworpe sal wees.

  • Psalm 110:4 – U is priester vir ewig volgens die orde van Melgisédek. Alle ander priesters het gesterwe (Heb 7:23), maar Jesus beklee die Hoëpriesterskap vir ewig.

  • Psalm 110:6 – Hy sal ʼn strafgerig hou onder die nasies. Met die dag van sy wederkoms sal die nasies van die aarde geskei word, boknasies en skaapnasies (Matt 25:31-46), ʼn groot oorlog en oordeel sal in die dag voltrek word oor die nasies wanneer Hy strafgerig hou (Op 19:11-21).


In Psalm 110, die Messiaanse psalm, bevestig Dawid twee groot waarhede:



  • die Godheid van die Messias; en

  • die Hoëpriesterskap van die Messias.


Christus is die Messias- (Gesalfde) Priester, nie deur die mens aangestel of verorden nie, maar deur ʼn eedswering van Jahweh God wat Christus met ʼn eedswering bekragtig het as Hoëpriester volgens die orde van Melgisédek.


Hierdie Gesalfde Priester het geen opvolger nie; sy priesterskap is ewig uniek!


Psalm 110:4 spreek van Christus se priesterlike werk vir sy mense soos opgeteken in Hebreërs 5-9.


Voorts sien ons met Jesus se verskyning ná sy opstanding uit die dode het Hy ʼn kleed aan wat tot op die voete hang (Op 1:13) – die Grieks vir die kleed is pondores. Dieselfde woord word gebruik wanneer daar na die kleed van die Hoëpriester verwys word.

Dag 4Dag 6

Aangaande hierdie leesplan

Die Priesterskap

Tot hiertoe het ons die tabernakel bestudeer in verhouding tot sy struktuur en meublement (huisraadstukke) met die beklemtoning van die waarheid dat God na die mens toe gekom het. In hierdie leesplan gaan ons die prieste...

More

Ons wil graag Raymond Lombard Ministries bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.raymondlombard.com/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid