Leesplan inligting

Tempels In Die Heilige SkrifVoorbeeld

Tempels In Die Heilige Skrif

DAG 3 VAN 4

DIE TEMPEL VAN DIE VERDRUKKING


Hierdie tempel van die Verdrukking sal in die komende groot verdrukking (Matt 24:21), die 70ste jaarweek van Daniël, deur die Joodse volk in Jerusalem gebou word. Ons lees in 2 Tessalonisense 2:1-12 van hierdie tempel waarin die Antichris, die mens van sonde, homself tot God sal verklaar en in die tempel as God sal sit, en voorgee dat hy God is.


In die boek Openbaring 11:1-2 word na die opmeet van hierdie tempel in Jerusalem verwys, asook na die ontheiliging daarvan.


Die apostel Johannes het die profesie oor die derde tempel ontvang 25 jaar nadat die tempel van Herodes (die tweede tempel) in 70 n.C. deur die Romeine verwoes is. Dus kan dit slegs op ’n toekomstige tempel betrekking hê.


Hierdie derde tempel sal ná 3½ jaar deur die valse messias (Antichris) ontheilig word: “En hy sal een week lank (profetiese week, sewe jaar) met baie ’n sterk verbond sluit, en gedurende die helfte van die week sal hy slagoffer en spysoffer laat ophou” (Dan 9:27). Dié tyd staan ook bekend as die benoudheid van Jakob (Jer 30:7), of ook as “die Groot Verdrukking” (Matt 24:21-22; Op 7:13-14). 


In die middel van die sewejaar-lange Groot Verdrukking sal die Antichris wat die sewejaar-verbond geïnisieer het, dit verbreek. Hierdie tydperk is een van die mees gedokumenteerde periodes van tyd in die ganse Bybel (Dan 4:16, 23,25; 7:25; 9:27; 12:7; Op 11:2-3; 12; 13:5). Dit het geweldige implikasies vir die volk van Israel in die eindtyd.


Die Here Jesus Christus het in noue aansluiting by Daniël na die gruwelike afgodsbeeld van die Antichris in die tempel verwys, wat kort voor die aanbreek van die Groot Verdrukking (die laaste 3½ jaar van die Verdrukking) in die tempel opgerig sal word. “Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting (die valse messias en sy beeld), waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom (tempel) – laat hy wat lees, oplet – dan moet die wat in Judéa is, na die berge vlug; . . . Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie” (Matt 24: 15-21). 


In die eindtyd sal die ontnugterde Jode in Israel vinnig moet vlug omdat die Antichris in die middel van die Verdrukking, nadat hy sy verbond verbreek het, die Jode sal probeer uitwis wanneer hulle weier om hom of sy beeld te aanbid.


Paulus verwys ook na die Antichris se ontheiliging van die tempel in die middel van die Verdrukking wanneer die Antichris homself as God verklaar. Hy beskryf hierdie mens van sonde as: “die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is” (2 Tess 2:4).


In Openbaring 11 word uitdruklik na die tempeldiens en die ontheiliging van die tempel in die Groot Verdrukking verwys. “Staan op en meet die tempel van God en die altaar en die wat daarin aanbid. Maar die voorhof buitekant die tempel moet jy uitlaat en dit nie meet nie, want dit is aan die heidene gegee; en hulle sal die heilige stad twee-en-veertig maande (3½ jaar) lank vertrap” (Op 11:1-2). Die voorhof is die plek waar handel gedrywe is. Dit is aan die heidene gegee waar hulle onder die bewind van die Antichris die heilige stad twee-en-veertig maande lank vertrap. Hierdie tydperk is ’n uitgemete tydperk onder Goddelike bepaling. Dit is 1 260 dae, of drie-en-’n-half jaar.


Uit al die Bybelse gegewens is dit duidelik dat die derde tempel, die een in die dae van die Groot Verdrukking, binnekort in Jerusalem gebou sal word omdat Bybelprofesie dit baie duidelik stel – daar sal ’n tempel in die eindtyd bestaan. Ook sal daar offers gebring word in daardie tyd, wat beteken die tempeldiens sal weer ingestel word deur die geestelike leiers van die volk van Israel (Dan 9:27). Die Antichris gaan hierdie situasie uitbuit vir sy eie gewin (Matt 24:15-21; 2 Tess 2:3-9; Op 11:1-2; 13:4-18).


Die vervulling van die profesieë met betrekking tot die herbou van die tempel in Jerusalem sal in die laaste dae voor die eerste helfte van die Groot Verdrukking en gedurende die Groot Verdrukking plaasvind. Vir Bybelprofesie om vervul te word rakende die Antichris en sy verskyning voordat die ware Messias, Jesus Christus, uit die hemel verskyn, moet daar in die laaste dae ’n tempel in Jerusalem gevestig word.

Dag 2Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

Tempels In Die Heilige Skrif

Deur die eeue heen het die blote gedagte aan Jerusalem die diepste gevoelens in Jode sowel as Christene geroer. Jerusalem, die stad van die lewende God! Jesus het geween oor die stad Jerusalem waarbinne die tempel van di...

More

Ons wil graag Raymond D. Lombard Ministries bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.raymondlombard.com/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid