Leesplan inligting

Jy Kán Verander Deur Gerdi van den BergVoorbeeld

Jy Kán Verander Deur Gerdi van den Berg

DAG 3 VAN 5

As ek net . . . my verlede kan verander


Baie mense is vasgevang in tronke uit die verlede sonder dat die tralies om hul hart ooit raakgesien word. Die hartseerste is dat hulle self gehelp het om die tralies op te rig. Dit laat hulle veilig voel, ten minste vir ’n rukkie. Ongelukkig sal hul emosies of gedrag altyd ’n ontsnapkans soek. Die verlede is egter onveranderlik. Dit het gebeur en die gebeure is onaantasbaar. Dit het ook seergemaak en wonde gelaat wat nie wil weggaan nie. Is daar ’n manier om hierdie skade te herstel?


Wat gebeur het, lê agter jou. Maar voor jou lê jou toekoms. En daarmee kan jy maak wat jy wil. Soos ’n wit linnedoek lê dit oopgesprei voor jou. Elke dag word jy van nuuts af toegerus met al die mooiste, helderste kleure verf om hierdie stuk lap mee in te kleur. Wat jy moet besef, is dat jy jou uitkyk kan verander. Jy kan ’n nuwe rigting inslaan.


’n Mens kan dit só illustreer: Jy stap op jou eie lewenspad. Hierdie lewenspad is gebou met ’n magdom plat klippe, grotes en kleintjies, smalles en breës. Seerkry kan veroorsaak dat jou pad se blink klippe dofgrys en bruin word. Die vreugde van die lewe word uit die klip gebleik. Jou vaal klippe is egter geensins verwerplik en onbruikbaar nie. Jy moet ook nie net wegstap en verwag jy gaan elders nuwe klippe optel vir ’n nuwe pad nie. Jou dowwe, ou klippe is elkeen kosbaar en bruikbaar wanneer jy met kinderlike vertroue op God se herskeppingsvermoë vertrou. Want dan gebeur iets wonderbaarliks. Wanneer jy jou ou klippe optel en omdraai in die rigting van die Een wat alles nuut maak, verander hulle. God kan jou van sonde skoonwas en jou lewenspad se klippe totaal verander. Elke vaal klip word verander in ’n blink edelsteen. 


Jou verlede lê agter jou. Die ervarings van jou verlede lê binne jou. Dit kan jou óf vergiftig, óf verryk.


Kan jy die verlede verander? Nee.


Kan die skade van die verlede verander? Dít is die regte vraag.

Dag 2Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

Jy Kán Verander Deur Gerdi van den Berg

Hierdie 5-dag-leesplan sal lesers aanmoedig om ’n verandering in hul lewe te maak. Elke dag bevat gedagtes rondom die temas van gedagtes en verandering, en eindig met ’n Bybelvers. Die inhoud vir hierdie leesplan is geba...

More

Ons wil graag Struik Christian Media en Gerdi van den Berg bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek gerus: https://www.cumbooks.co.za/jy-kan-verander-sagteband

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid