RIGTERS 2:1-10

RIGTERS 2:1-10 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die Engel van die Here het van Gilgal af na Bokim toe gegaan. Hy het gesê: “Ek het julle uit Egipte laat trek en julle gebring in die land wat Ek met 'n eed aan julle voorvaders beloof het. Ek het vir hulle gesê: ‘Ek sal my verbond met julle nooit verbreek nie, maar julle mag nie 'n verdrag sluit met die inwoners van hierdie land nie. Julle moet hulle altare afbreek.’ Maar julle het My nie gehoorsaam nie. Waarom het julle dit gedoen? Daarom sê Ek vir julle: Ek sal nie hierdie nasies van julle af wegdryf nie. Hulle sal vir julle 'n strik word, en hulle gode sal vir julle 'n valstrik word.” Toe die Engel van die Here dit alles vir die Israeliete gesê het, het die hele volk hard gehuil. Daarom het hulle die plek Bokim genoem. Hulle het daar 'n offer aan die Here gebring. Nadat Josua die volk laat gaan het, het hulle die land gaan verower en daarna het elkeen na sy grond toe gegaan. So lank as Josua geleef het, het die volk die Here gedien. Dit was ook nog so terwyl die leiers geleef het wat vir Josua oorleef het. Hulle het nog al die groot dade beleef wat die Here gedoen het om vir Israel te help. Josua, seun van Nun en dienaar van die Here, het honderd en tien jaar oud geword. Hy het gesterf, en hy is begrawe op sy grond in Timnat-Geres op die Efraimsberge noord van Gaäsberg. Al die mense van sy leeftyd het gesterf, en die volgende geslag se mense het nie die Here geken nie. Hulle het ook nie geweet van sy groot dade wat Hy gedoen het om vir Israel te help nie.

RIGTERS 2:1-10 Bybel vir almal (ABA)

Die Engel van die Here het van die stad Gilgal na die plek Bokim gegaan en Hy het vir die Israeliete gesê: “Ek het julle uit Egipte gebring na die land wat Ek vir julle voorvaders belowe het, en Ek het gesê: Ek sal nooit my verbond met julle breek nie, maar dan moet julle nie 'n ooreenkoms maak met die mense wat in die land woon nie, en julle moet hulle altare afbreek. “Maar julle was nie gehoorsaam aan My nie. Julle het nie gedoen wat Ek gesê het nie. Ek het ook vir julle gesê Ek sal nie die mense wegjaag wat in die land woon nie. Julle sal niks kan doen teen hulle en hulle gode nie. Julle sal word soos voëls in vangstrikke en vangnette.” Toe die Engel van die Here dit vir al die Israeliete sê, het hulle hard gehuil. Daarom het hulle die plek Bokim genoem. Hulle het ook daar offers gebring vir die Here. Josua het die Israeliete gestuur om die land te vat, en hulle het gegaan en dit gedoen. Elkeen het na die stuk grond gegaan wat hy moes kry. Die Israeliete het die Here gedien terwyl Josua gelewe het en terwyl die leiers ná Josua gelewe het. Hierdie leiers was die mense wat gesien het watter groot dinge die Here vir die Israeliete gedoen het. Maar Josua, seun van Nun en dienaar van die Here, het gesterf. Hy was 110 jaar oud. Sy mense het hom begrawe op sy grond in Timnat-Geres, in die Efraim-berge, noord van Gaäs-berg. En toe die mense wat saam met Josua gelewe het, ook gesterf het, het 'n nuwe geslag gekom wat nie die Here geken het nie en nie geweet het wat Hy alles vir die Israeliete gedoen het nie.

RIGTERS 2:1-10 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

TOE trek die Engel van die HERE van Gilgal op na Bogim en sê: Ek het julle uit Egipte laat optrek en julle gebring in die land wat Ek julle vaders met 'n eed beloof het, en gesê: Ek sal my verbond met julle in ewigheid nie verbreek nie; maar julle mag geen verbond met die inwoners van hierdie land maak nie; hulle altare moet julle omgooi. Maar julle het nie na my stem geluister nie. Wat het julle nou gedoen? So sê Ek dan ook: Ek sal hulle nie voor julle uit verdrywe nie, sodat hulle vyande vir julle sal wees, en hulle gode 'n strik vir julle. En terwyl die Engel van die HERE met hierdie woorde al die kinders van Israel toespreek, het die volk hulle stem verhef en geween; en hulle het dié plek Bogim genoem en daar aan die HERE geoffer. DAARNA het Josua die volk laat gaan, en die kinders van Israel het elkeen na sy erfdeel getrek om die land in besit te neem. En die volk het die HERE gedien al die dae van Josua en al die dae van die oudstes wat ná Josua nog in die lewe was, en al die groot werke van die HERE gesien het wat Hy vir Israel gedoen het. Maar Josua, die seun van Nun, die kneg van die HERE, het gesterwe, honderd-en-tien jaar oud; en hulle het hom begrawe op die gebied van sy erfdeel in Timnat-Heres, op die gebergte van Efraim, noord van die berg Gaäs. En toe ook daardie hele geslag by hulle vaders versamel is, staan daar 'n ander geslag ná hulle op wat die HERE en ook die werk wat Hy vir Israel gedoen het, nie geken het nie.

RIGTERS 2:1-10 Die Boodskap (DB)

Die Engel van die Here is van Gilgal af na Bokim toe om ’n boodskap vir die Israeliete te gee. Hy het vir hulle gesê: “Ek het julle uit Egipte uit laat trek na hierdie land toe soos Ek julle voorouers beloof het. Ek het vir hulle gesê: ‘Ek sal nooit my ooreenkoms met julle breek nie, maar julle mag ook nie ’n kontrak met die inwoners van hierdie land sluit nie. Julle moet ook die altare vir hulle gode afbreek.’ Maar julle was ongehoorsaam! Hoekom? Omdat julle nie na My geluister het nie, gaan Ek nie meer hierdie mense voor julle uit laat vlug nie. Hulle sal vir julle ’n doring in die vlees wees en hulle afgode sal julle gedurig verlei.” Toe die Engel van die Here klaar gepraat het, het die Israeliete almal hardop begin huil. Daarom het hulle die plek Bokim genoem. Daar het hulle ook offers vir die Here gebring. Josua het die volk gestuur om die land te gaan inneem. Elke stam het in die gebied gaan bly wat aan hulle toegeken is. Gedurende Josua se leeftyd het Israel die Here bly dien. Na sy dood het hulle nog voor die Here gebuig solank die leiers, wat alles self ervaar het wat die Here vir Israel gedoen het, geleef het. Nie lank hierna nie is Josua die seun van Nun, die dienaar van die Here, in die ouderdom van 110 jaar dood. Hulle het hom op sy eie grond in Timnat-Serag op die berge van Efraim regoor die Gaäsberge begrawe. Die leiers wat vir Josua oorleef het, is later almal dood. Na hulle het daar ’n geslag mense gekom wat nie die Here geken het nie. Hulle het ook nie geweet van al die wonderlike dinge wat Hy vir Israel gedoen het nie.

RIGTERS 2:1-10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die HERE se engel het ’n boodskap van God vir Israel gebring. Hy het van Gilgal af na Bokim toe opgegaan en gesê: “Ek het julle uit Egipte gered. Ek het julle na die land gebring wat Ek aan julle voorouers beloof het. Ek het vir hulle gesê: ‘Ek sal nooit my verbond met julle verbreek nie, maar julle mag nooit ’n verdrag sluit met die mense wat in hierdie land woon nie. Julle moet hulle altare afbreek.’ Julle het egter nie na My geluister nie. Hoekom het julle so gemaak? Daarom sê Ek nou vir julle: Ek gaan nie hierdie nasies voor julle verdryf nie. Hulle gaan vir julle ’n struikelblok wees. Julle gaan oor hulle gode struikel.” Ná die engel van die HERE die boodskap vir die Israeliete gebring het, het die hele volk in trane uitgebars. Hulle het daarom die plek Bokim genoem. Hulle het daar offers vir die HERE gebring. HERE Nadat Josua die volk weggestuur het, is elkeen na sy grond toe om dit in besit te gaan neem. Terwyl Josua nog geleef het, het die volk die HERE bly dien. Terwyl dié leiers oor was wat langer as Josua geleef het, het hulle nog die HERE gedien. Hierdie mense het nog al die groot dade beleef wat die HERE vir Israel gedoen het. Josua, die seun van Nun en dienaar van die HERE, is dood op 110 jaar. Hy is op sy grond begrawe in Timnat-Geres, in die heuwels van Efraim, noord van Gaäsberg. Daardie geslag het uitgesterf. Ná hulle het daar ’n geslag mense gekom wat nie die HERE geken het nie. Hulle het ook niks geweet van die groot dinge wat Hy gedoen het nie.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid