RIGTERS 2:1-10

RIGTERS 2:1-10 NLV

Die HERE se engel het ’n boodskap van God vir Israel gebring. Hy het van Gilgal af na Bokim toe opgegaan en gesê: “Ek het julle uit Egipte gered. Ek het julle na die land gebring wat Ek aan julle voorouers beloof het. Ek het vir hulle gesê: ‘Ek sal nooit my verbond met julle verbreek nie, maar julle mag nooit ’n verdrag sluit met die mense wat in hierdie land woon nie. Julle moet hulle altare afbreek.’ Julle het egter nie na My geluister nie. Hoekom het julle so gemaak? Daarom sê Ek nou vir julle: Ek gaan nie hierdie nasies voor julle verdryf nie. Hulle gaan vir julle ’n struikelblok wees. Julle gaan oor hulle gode struikel.” Ná die engel van die HERE die boodskap vir die Israeliete gebring het, het die hele volk in trane uitgebars. Hulle het daarom die plek Bokim genoem. Hulle het daar offers vir die HERE gebring. HERE Nadat Josua die volk weggestuur het, is elkeen na sy grond toe om dit in besit te gaan neem. Terwyl Josua nog geleef het, het die volk die HERE bly dien. Terwyl dié leiers oor was wat langer as Josua geleef het, het hulle nog die HERE gedien. Hierdie mense het nog al die groot dade beleef wat die HERE vir Israel gedoen het. Josua, die seun van Nun en dienaar van die HERE, is dood op 110 jaar. Hy is op sy grond begrawe in Timnat-Geres, in die heuwels van Efraim, noord van Gaäsberg. Daardie geslag het uitgesterf. Ná hulle het daar ’n geslag mense gekom wat nie die HERE geken het nie. Hulle het ook niks geweet van die groot dinge wat Hy gedoen het nie.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid