RIGTERS 2

2
Die Here stuur sy boodskapper na Bokim
1Die Here se engel het ’n boodskap van God vir Israel gebring. Hy het van Gilgal af na Bokim toe opgegaan en gesê: “Ek het julle uit Egipte gered. Ek het julle na die land gebring wat Ek aan julle voorouers beloof het. Ek het vir hulle gesê: ‘Ek sal nooit my verbond met julle verbreek nie, 2maar julle mag nooit ’n verdrag sluit met die mense wat in hierdie land woon nie. Julle moet hulle altare afbreek.’ Julle het egter nie na My geluister nie. Hoekom het julle so gemaak? 3Daarom sê Ek nou vir julle: Ek gaan nie hierdie nasies voor julle verdryf nie. Hulle gaan vir julle ’n struikelblok wees. Julle gaan oor hulle gode struikel.”
4Ná die engel van die Here die boodskap vir die Israeliete gebring het, het die hele volk in trane uitgebars. 5Hulle het daarom die plek Bokim genoem. Hulle het daar offers vir die Here gebring.
Israel verlaat die Here
6Nadat Josua die volk weggestuur het, is elkeen na sy grond toe om dit in besit te gaan neem. 7Terwyl Josua nog geleef het, het die volk die Here bly dien. Terwyl dié leiers oor was wat langer as Josua geleef het, het hulle nog die Here gedien. Hierdie mense het nog al die groot dade beleef wat die Here vir Israel gedoen het.
8Josua, die seun van Nun en dienaar van die Here, is dood op 110 jaar. 9Hy is op sy grond begrawe in Timnat-Geres, in die heuwels van Efraim, noord van Gaäsberg.
10Daardie geslag het uitgesterf. Ná hulle het daar ’n geslag mense gekom wat nie die Here geken het nie. Hulle het ook niks geweet van die groot dinge wat Hy gedoen het nie.
11Die Israeliete het toe iets gedoen wat vir die Here baie sleg was. Hulle het die Baäls begin aanbid. 12Hulle het hulle rug gedraai op die Here, die God van hulle voorouers, wat hulle uit Egipte gered het. Hulle het agter die vreemde gode van die volke rondom hulle aan gegaan. Die Israeliete het voor hierdie gode begin kniel. Dit het die Here kwaad gemaak. 13Hulle het die Here net so gelos en die Baäls en die Astartes begin aanbid. 14Die Here was woedend vir Israel. Hy het hulle uitgelewer aan rowers wat Israel geplunder het. Die Here het hulle in die hand van al hulle vyande rondom hulle oorgelewer. Die Israeliete kon geen teenstand bied teen hulle vyande nie. 15Elke keer wanneer hulle uitgegaan het om te gaan veg, was die hand van die Here teen hulle. Dit is soos Hy hulle voorheen gewaarsku het en vir hulle belowe het. Die Israeliete was uiters moedeloos.
16Die Here het egter leiers#2:16 Of rigters, regters. na vore laat kom om die volk te red van die mense wat hulle beroof het. 17Maar die volk was nie gehoorsaam aan hulle leiers nie. Hulle het agter ander gode aangegaan#2:17 Of aan hoereer. en hulle aanbid. Hulle het gou afgewyk van die koers wat hulle voorouers ingeslaan het, naamlik om die Here se gebooie te volg. Hulle het nie dieselfde koers gevolg nie. 18Wanneer die Here vir hulle ’n leier gegee het, was Hy saam met daardie leier en het Hy die volk gered van hulle vyande so lank as wat die leier geleef het. Die Here was jammer vir sy volk wanneer hulle gekla het oor die mense wat hulle laat swaarkry en hulle onderdruk het. 19Sodra die leier egter sterf, het hulle maar weer teruggeval op die ou weë en het hulle net nog erger tekere gegaan as die mense voor hulle. Hulle het agter vreemde gode aangeloop om hulle te aanbid en voor hulle te buig. Hulle het nie van hulle verkeerde dade afgesien of hulle eiewilligheid gelos nie.
20Die Here het dan weer woedend geword en vir Homself gesê: “Hierdie volk verbreek die verbond wat Ek met hulle voorouers gemaak het. Hulle luister nie na My nie. 21Daarom gaan Ek nie langer die nasies wat oorgebly het ná Josua se dood uitdryf nie. 22Ek gaan Israel met hierdie nasies toets om te kyk of hulle agter die Here aangaan soos hulle voorouers, of nie.” 23Daarom het die Here hierdie nasies net so gelos en hulle nie verdryf nie. Dit is hoekom Hy hulle destyds ook nie in Josua se mag oorgegee het nie.

Tans Gekies:

RIGTERS 2: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid