RIGTERS 2:1-10

RIGTERS 2:1-10 AFR83

Die Engel van die Here het van Gilgal af na Bokim toe gegaan. Hy het gesê: “Ek het julle uit Egipte laat trek en julle gebring in die land wat Ek met 'n eed aan julle voorvaders beloof het. Ek het vir hulle gesê: ‘Ek sal my verbond met julle nooit verbreek nie, maar julle mag nie 'n verdrag sluit met die inwoners van hierdie land nie. Julle moet hulle altare afbreek.’ Maar julle het My nie gehoorsaam nie. Waarom het julle dit gedoen? Daarom sê Ek vir julle: Ek sal nie hierdie nasies van julle af wegdryf nie. Hulle sal vir julle 'n strik word, en hulle gode sal vir julle 'n valstrik word.” Toe die Engel van die Here dit alles vir die Israeliete gesê het, het die hele volk hard gehuil. Daarom het hulle die plek Bokim genoem. Hulle het daar 'n offer aan die Here gebring. Nadat Josua die volk laat gaan het, het hulle die land gaan verower en daarna het elkeen na sy grond toe gegaan. So lank as Josua geleef het, het die volk die Here gedien. Dit was ook nog so terwyl die leiers geleef het wat vir Josua oorleef het. Hulle het nog al die groot dade beleef wat die Here gedoen het om vir Israel te help. Josua, seun van Nun en dienaar van die Here, het honderd en tien jaar oud geword. Hy het gesterf, en hy is begrawe op sy grond in Timnat-Geres op die Efraimsberge noord van Gaäsberg. Al die mense van sy leeftyd het gesterf, en die volgende geslag se mense het nie die Here geken nie. Hulle het ook nie geweet van sy groot dade wat Hy gedoen het om vir Israel te help nie.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid