RIGTERS 2:1-10

RIGTERS 2:1-10 AFR53

TOE trek die Engel van die HERE van Gilgal op na Bogim en sê: Ek het julle uit Egipte laat optrek en julle gebring in die land wat Ek julle vaders met 'n eed beloof het, en gesê: Ek sal my verbond met julle in ewigheid nie verbreek nie; maar julle mag geen verbond met die inwoners van hierdie land maak nie; hulle altare moet julle omgooi. Maar julle het nie na my stem geluister nie. Wat het julle nou gedoen? So sê Ek dan ook: Ek sal hulle nie voor julle uit verdrywe nie, sodat hulle vyande vir julle sal wees, en hulle gode 'n strik vir julle. En terwyl die Engel van die HERE met hierdie woorde al die kinders van Israel toespreek, het die volk hulle stem verhef en geween; en hulle het dié plek Bogim genoem en daar aan die HERE geoffer. DAARNA het Josua die volk laat gaan, en die kinders van Israel het elkeen na sy erfdeel getrek om die land in besit te neem. En die volk het die HERE gedien al die dae van Josua en al die dae van die oudstes wat ná Josua nog in die lewe was, en al die groot werke van die HERE gesien het wat Hy vir Israel gedoen het. Maar Josua, die seun van Nun, die kneg van die HERE, het gesterwe, honderd-en-tien jaar oud; en hulle het hom begrawe op die gebied van sy erfdeel in Timnat-Heres, op die gebergte van Efraim, noord van die berg Gaäs. En toe ook daardie hele geslag by hulle vaders versamel is, staan daar 'n ander geslag ná hulle op wat die HERE en ook die werk wat Hy vir Israel gedoen het, nie geken het nie.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid