2 TIMOTEUS 4:9-22

2 TIMOTEUS 4:9-22 NLV

Doen jou bes om so gou moontlik na my toe te kom. Demas het my verlaat omdat hy verlief geraak het op die dinge van hierdie lewe en toe na Tessalonika vertrek het. Kressens is weg na Galasië en Titus na Dalmasië. Net Lukas is by my. Gaan haal vir Markus en bring hom saam met jou wanneer jy kom, want hy kan my behulpsaam wees. Ek het Tigikus na Efese toe gestuur. Wanneer jy kom, onthou om die bokleed wat ek by Karpus in Troas agtergelaat het, saam te bring. Bring ook my boeke, en veral my perkamente. Aleksander die kopersmid het my baie skade aangedoen, maar die Here sal hom oordeel vir wat hy gedoen het. Wees versigtig vir hom, want hy het alles teengestaan wat ons gesê het. Toe ek die eerste keer voor die regter gebring is, was daar niemand by my nie. Almal het my verlaat. Ek hoop nie dit sal teen hulle tel nie! Maar die Here het my bygestaan en my krag gegee om die Goeie Nuus in al sy volheid te verkondig sodat al die nie-Joodse nasies dit kan hoor. En Hy het my van ’n gewisse dood gered. Ja, en die Here sal my verlos van enige kwaad en my veilig in sy hemelse koninkryk bring. Aan God kom die heerlikheid toe, vir ewig en ewig. Amen. Groete aan Priscilla en Akwila en Onesiforus se gesin. Erastus het in Korinte agtergebly en Trofimus het ek siek in Milete agtergelaat. Doen jou bes om voor die winter te kom. Eubulus stuur vir jou groete, en so ook Pudens, Linus, Claudia en al die broers en susters. Mag die Here met jou gees wees. Mag God se genade met julle wees.

Gratis leesplanne en oordenkings oor 2 TIMOTEUS 4:9-22

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid