2 TIMOTEUS 4:9-22

2 TIMOTEUS 4:9-22 Bybel vir almal (ABA)

Timoteus, jy moet hard probeer om gou na my toe te kom, want Demas het my alleen gelos. Hy het besluit dat hierdie wêreld vir hom die belangrikste is en hy het na die stad Tessalonika gegaan. Kressens het na die land Galasië gegaan en Titus het na die land Dalmasië gegaan. Dit is net Lukas wat nou by my is. Jy moet vir Markus gaan haal en jy moet hom saam met jou bring, want hy kan my baie goed help om my werk te doen. Ek het vir Tigikus na die stad Efese gestuur. Wanneer jy kom, dan moet jy die bo-kleed vir my saambring, ek het dit in Troas by Karpus gelos. Jy moet ook die boeke bring, die boekrolle van vel is die belangrikste wat jy moet saambring. Aleksander, die ambagsman wat met koper werk, het baie slegte dinge aan my gedoen. Die Here sal hom oordeel oor wat hy gedoen het. Pasop vir hom, want hy het altyd baie hard teen my gewerk en probeer keer dat mense glo wat ek sê. Toe ek die eerste maal in die hof gekom het omdat mense my beskuldig het, het niemand my gehelp nie, almal het my alleen gelos. Ek hoop dat die Here hulle nie sal straf nie. Maar die Here het my gehelp, Hy het my sterk gemaak. Daarom kon ek die goeie boodskap klaar bring en al die heidene kon dit hoor. Die Here het my gered van my vyande soos 'n mens iemand red van 'n leeu. En die Here sal my ook altyd red wanneer mense my wil laat swaarkry. Hy sal my veilig na die hemel bring waar Hy Koning is. Daarom moet ons die Here prys, altyd en altyd. Amen. Sê groete vir Priska en Akwila en die huisgesin van Onesiforus. Erastus het in die stad Korinte gebly. Ek het vir Trofimus in die stad Milete gelos, hy was siek. Jy moet gou na my toe kom, voor die winter. Eubulus, Pudens, Linos, Claudia en al die ander vriende stuur groete vir jou. Ek bid dat die Here by jou sal wees. Ek bid dat die Here genadig sal wees vir julle.

2 TIMOTEUS 4:9-22 Die Boodskap (DB)

Doen jou bes om so gou moontlik na my toe te kom. Demas is Tessalonika toe. Hy is nie meer by my nie, want hy het te lief geraak vir die dinge waarvan God nie hou nie. Kressens is Galasië toe en Titus is Dalmasië toe. Nog net Lukas is by my. As jy kom, moet jy ook vir Markus saambring. Hy kan baie vir my en vir die werk van die Here doen. Ek het Tigikus Efese toe gestuur. Onthou ook asseblief om my jas en my boeke saam te bring as jy weer kom. My jas het ek by Karpus in Troas laat lê. Aleksander, die kopersmid, het my ’n groot klomp skade aangedoen. Die Here sal wel met hom afreken. Julle moet ook versigtig wees vir hom, want hy het sy bes probeer om alles wat ons sê belaglik te probeer maak. Toe ek die eerste keer in die hof my saak moes gaan verdedig, was daar niemand by my nie. Almal het weggehardloop en my net so gelos. Mag die Here hulle nie kwalik neem daaroor nie. Maar die Here het my nie alleen gelos nie. Hy was by my en het my krag gegee. Daarom kon ek die boodskap oor Jesus vir almal vertel en al die nie-Jode kon ook van God hoor. En ek is byna deur ’n leeu opgevreet, maar is gelukkig betyds gered. Die Here sal my beskerm teen elkeen wat my aanval en wil seermaak. Ek sal uiteindelik saam met Hom in die hemel wees waar Hy regeer. Hy moet vir ewig grootgemaak word. So sal dit wees. Sê asseblief groete vir Priscilla en Akwila asook vir almal in die gesin van Onesiforus. Erastus het in Korinte gebly en Trofimus het siek geword; ek moes hom toe in Milete los. Probeer asseblief om na my toe te kom voor die winter hier is. Eubulus, Pudens, Linos, Claudia en al die ander Christene sê ook groete. Mag die Here by jou bly en mag Hy baie goed wees vir julle, ver meer as wat julle verdien.

2 TIMOTEUS 4:9-22 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Doen jou bes om so gou moontlik na my toe te kom. Demas het my verlaat omdat hy verlief geraak het op die dinge van hierdie lewe en toe na Tessalonika vertrek het. Kressens is weg na Galasië en Titus na Dalmasië. Net Lukas is by my. Gaan haal vir Markus en bring hom saam met jou wanneer jy kom, want hy kan my behulpsaam wees. Ek het Tigikus na Efese toe gestuur. Wanneer jy kom, onthou om die bokleed wat ek by Karpus in Troas agtergelaat het, saam te bring. Bring ook my boeke, en veral my perkamente. Aleksander die kopersmid het my baie skade aangedoen, maar die Here sal hom oordeel vir wat hy gedoen het. Wees versigtig vir hom, want hy het alles teengestaan wat ons gesê het. Toe ek die eerste keer voor die regter gebring is, was daar niemand by my nie. Almal het my verlaat. Ek hoop nie dit sal teen hulle tel nie! Maar die Here het my bygestaan en my krag gegee om die Goeie Nuus in al sy volheid te verkondig sodat al die nie-Joodse nasies dit kan hoor. En Hy het my van ’n gewisse dood gered. Ja, en die Here sal my verlos van enige kwaad en my veilig in sy hemelse koninkryk bring. Aan God kom die heerlikheid toe, vir ewig en ewig. Amen. Groete aan Priscilla en Akwila en Onesiforus se gesin. Erastus het in Korinte agtergebly en Trofimus het ek siek in Milete agtergelaat. Doen jou bes om voor die winter te kom. Eubulus stuur vir jou groete, en so ook Pudens, Linus, Claudia en al die broers en susters. Mag die Here met jou gees wees. Mag God se genade met julle wees.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid