Leesplan inligting

Goliat Moet ValVoorbeeld

Goliat Moet Val

DAG 1 VAN 7

DOOD MAAR STEEDS DODELIK 

Die epiese verhaal van Dawid en Goliat is een van die bekendste stories in die Bybel. Aan die een kant van die Vallei van Ela staan die Filistynse weermag, met hul nege-voet-lange kampioen genaamd Goliat. Aan die anderkant van die vallei staan die Israelitiese weermag, bewend van vrees onder die leierskap van hul koning, Saul. Vir veertig dae lank het Goliat die Israeliete uitgetart en hulle in die greep van vrees gehou. Dag na dag het hy hulle uitgedaag om een soldaat uit te stuur wat hom man tot man sal ontmoet. Maar tot dusver het niemand nog na vore getree nie.

Miskien kan jy jou vereenselwig met die lot van die Israeliete. Een of ander reus staan voor jou, tart jou, teister en beledig jou. Miskien is dit vrees. Miskien is dit woede. Miskien is dit 'n gevoel van verwerping. Miskien is dit die skelm, maar al te bekende reus van gemak wat jou dwing om te leef vir iets minder. Dit mag selfs 'n verslawing wees.

Wat ookal hierdie reus in jou lewe is, dag na dag het dit jou beroof van krag. Jy’t probeer om die teisterings te stop, maar jy voel buite aksie. Teruggehou. Te lam om vorentoe te beweeg. Uiteindelik weet jy dat jy nie die lewe van oorvloed en vryheid leef wat God se doel vir jou was nie.

Die goeie nuus is dat God 'n weg gebaan het om hierdie reuse te laat val. Dit begin met geloof dat selfs al mag die reus waarteen jy veg groot wees, dit nie groter as Jesus is nie. Om die waarheid te sê, Hy het reeds die reuse in jou lewe oorwin. Toe Hy aarde toe gekom het, het Hy vir jou die hel aan die kruis verduur en uit die graf verrys sodat jy die vooruitsig van 'n gedoemde lewe kan afskud. Hy het gekom om jou vry te maak van die reuse wat teen jou opstaan en jou in vrees lamlê.

Jesus het alreeds die vyand oorwin. Alhoewel, soos ons in 1 Petrus 5:8 lees, loop die “duiwel rond soos 'n brullende leeu opsoek na iemand om te verslind.” Op baie maniere is hy soos 'n slang met 'n afgekapte kop. Wanneer jy 'n slang doodmaak, moet jy seker maak jy begrawe sy kop, want selfs na sy dood hou 'n slang 'n dodelike dosis gif in sy slagtande. As jy op 'n dooie slang se kop trap, kan jy steeds vergiftig word. Op dieselfde manier, selfs al het Jesus die mag van die Satan aan die kruis gebreek, kan hy steeds sy dodelike gif in ons lewens inspuit. Hy is dood, maar steeds dodelik.

Die doel dan, soos wat ons in hierdie studie sal bespreek, is om nie op die slang se kop te trap nie. In praktiese terme, beteken dit om die duiwel teen te staan (Jak. 4:7), toegerus met die verdedigingsmeganismes wat Jesus voorsien het (Ef. 6:10-18), en net te rus in sy voorsiening (Spr. 3:5). Dit beteken om te onthou dat Hy my Dawid in die storie is – en mens kan nooit 'n reus neervel vanuit jou eie krag, wil of pogings nie. Dit is altyd Jesus wat die reuse neervel.

As jy waarlik oorwinning wil sien oor die reuse in jou lewe, is dit nodig om jou afhanklikheid van die allesvoorsienende Jesus Christus te verstaan. Oorwinning gaan alles oor vertroue in Christus en nie oor jou eie pogings om suksesvol te wees nie. Om die eerste stap te neem teen jou dood-maar-steeds-dodelike vyand, is dit noodsaaklik om hierdie paradigmaskuif in jou kop te maak. Christus is die enigste vors wat verandering bring.

Reageer

Hoe reageer jy ten opsigte van die opmerking dat Jesus, nie jy nie, die Dawid is wat alreeds die vyand oorwin het? Wat is die gevolge hiervan vir die manier waarop jy jou lewe verder gaan lei?

Jesus het aarde toe gekom om die krag van sonde en die dood te vernietig en Hy het reeds die vyand oorwin. Watter verskil maak hierdie wete in die manier waarop jy die reus in jou lewe sien?

Wat is van die maniere waarop jy nader aan Jesus kan kom ten einde te verhoed dat jy op die giftige kop van jou oorwonne vyand sal trap? 

Dag 2

Aangaande hierdie leesplan

Goliat Moet Val

Dis heel moontlik dat jy `n reus in jou lewe het wat jou gevange hou, jou intimideer, en jou vreugde steel. Teëstanders soos vrees, verwerping, gemak, woede, en verslawing steek `n kleim af en voor jy dit weet, verkry di...

More

Ons wil graag Louie Giglio en Harper Collins bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek gerus: goliathmustfall.com

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid