Leesplan inligting

Jesus, Ons Groot HoofpriesterVoorbeeld

Jesus, Ons Groot Hoofpriester

DAG 4 VAN 4

Oë Gevestig op Jesus

Is jy al ooit gespot, verstoot of het jy die koue skouer gekry as gevolg van jou geloof in Jesus? Tot dusver het ons geleer dat Jesus oppermagtig, ons groot Middelaar en die volmaakte offerhande vir ons sonde is. As ʼn mens egter hierdie waarhede volkome aanneem en uitleef, kan dit ander mense wat nie jou oortuigings deel nie moontlik affronteer. Dit is juis dan wanneer ons moed moet skep en ons oë moet vestig op Jesus wat vir ons die volmaakte voorbeeld van selfopoffering stel.

Dit is uiters moeilik om van sekere ongoddelike aspekte van ons kultuur en tradisies los te breek. Indien jy al so iets moes doen, het dit heel moontlik gevoel asof jy ʼn deel van jou identiteit moes ontken. Ná my ma se afsterwe is daar van my verwag om deel te neem aan ʼn reinigingseremonie ʼn paar maande na haar begrafnis om teenspoed af te weer. (Tydens die seremonie word ʼn bok geslag en voorvadergeeste opgeroep.) Ek het dit met die nodige respek van die hand gewys, maar dit het ontsettende negatiewe reaksies en selfs vyandigheid by my familielede ontlok.

Wanneer ons hierdie tipe spanning in ons families en gemeenskappe beleef, is dit nuttig om aan Jesus op die Olyfberg te dink. Die nag toe Hy verraai is, het Hy ontsettende angs en smart beleef (Lukas 22:41-44), maar Hy het dit vir ons gedoen omdat Hy ons liefhet. Jesus het ons vrygemaak van die vereiste om allerhande tipe goed te doen in ʼn poging om ons saak met God reg te stel. Sy offer was soveel groter as enige opoffering wat ons ooit kan maak en daarom kan ons ook vervolging verduur wanneer dit oor ons pad kom.

In Hebreërs 12:1-3 word daar ʼn beroep op ons gedoen om ontslae te raak van die sonde en ons oë te vestig op Jesus, wat namens ons pyn en lyding deurgemaak het sodat ons met die Vader versoen kan word. Ons moet na sy voorbeeld van selfopoffering kyk en bemoedig word deur die wete dat Hy vertroud is met elke stryd wat ons in die gesig mag staar terwyl ons probeer om ʼn lewe te lei wat vir Hom welgevallig is. Kom ons herinner mekaar om alles wat nie vir God verheerlik nie van ons af te stroop, naamlik die sondelas, en laat ons bemoedig word deur medegelowiges. Ons is nie alleen in ons stryd om in alle opsigte aan God gehoorsaam te probeer wees nie: vele ander het dit voor ons gedoen en nog vele meer sal in ons voetspore volg en na ons kyk as voorbeeld. Kom ons volhard dus en volg Jesus se voorbeeld van opoffering.

Mag ons oorspoel word met diepe ervaringskennis van die heerlikheid en oppergesag van Christus. Mag ons voortdurend daaraan herinner word dat Jesus, ons Hoofpriester, eens en vir altyd die hoogste prys betaal het om ons sonde te versoen en sodoende die behoefte aan enige ander tipe offer uit die weg geruim het. Mag ons sterk staan in die waarheid dat daar slegs een Middelaar tussen God en mens is: Jesus die vlekkelose Lam van God.

Dag 3

Aangaande hierdie leesplan

Jesus, Ons Groot Hoofpriester

Die meeste van ons is nie vertroud met die rol van ʼn hoofpriester nie, so wanneer Jesus so beskryf word in die Woord kyk ons dit maklik mis – dit is net nog een van sy vele titels. Godfrey Mmagawo sien dit egter heeltema...

More

Ons wil graag in Harmonie bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.inharmonie.co.za/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid