Leesplan inligting

Jesus, Ons Groot HoofpriesterVoorbeeld

Jesus, Ons Groot Hoofpriester

DAG 2 VAN 4

Jesus, die enigste Middelaar

Ons het nou reeds gekyk na die feit dat kultuur afbreuk kan maak aan Christus se oppergesag in jou lewe, maar kom ons stel dit baie duidelik: kultuur is nie op sigself boos nie. In Openbaring lees ons dat alle nasies, stamme, volke en taalgroepe voor die troon van God sal staan en Jesus aanbid. Al die verskillende kulture verheerlik God en is op een of ander manier ʼn weerspieëling van sy beeld.

Ongelukkig is daar ook diepgewortelde praktyke in elke kultuur wat God se gesag ondermyn. Byvoorbeeld, baie mense in die kultuur waarin ek grootgeword het, het gereeld die geeste van afgestorwe voorvaders geraadpleeg vir antwoorde rakende moeilike omstandighede. Die Bybel maak dit egter baie duidelik – in vandag se Skrifgedeelte uit 1 Timoteus – dat ons nie die geeste van ons voorvaders nodig het om namens ons as middelaars op te tree nie.

Die idee van ʼn middelaar tussen God en mens was onlosmaaklik deel van antieke Joodse kultuur. Die stam Levi het as priesters vir die volk opgetree en onder hierdie priesters was daar ʼn nog meer eksklusiewe groep bestaande uit hoofpriesters, oftewel middelaars. Hoofpriesters was die enigste persone wat toegelaat was om namens die volk (en hulself, want hulle was ook sondig) offers te bring. Hierdie offers is een maal per jaar, op die Dag van Versoening, in die Allerheiligste gebring. Die skrywer van Hebreërs verduidelik dat God vir Jesus as ons volmaakte Hoofpriester aangestel het, die enigste Een wat ons sonde kan versoen. Boonop is Hy ʼn Hoofpriester wat meegevoel het met ons swaarkry in die lewe.

'n Mens bevind jouself soms in ʼn donker plek waar dit voel asof niemand verstaan waardeur jy gaan nie en ook of niemand ooit sal kán verstaan nie. Dit is egter ʼn leuen van die vyand wat ons van God wil isoleer. Die waarheid is dat ons nie alleen is nie en dat daar wel Iemand is wat vir seker verstaan. Jesus was op aarde nes ons, Hy het dieselfde omstandighede en uitdagings as ons in die gesig gestaar. Hy was ook nes ons versoek, maar in teenstelling met die hoofpriesters in die tempel, het Hy nie sonde van sy eie gehad waarvoor Hy versoening moes doen nie. Die soenoffer wat Hy gebring het, was uit en uit net vir ons.

Jesus het oor en oor vir sy dissipels gesê om na Hom toe te kom. Hy het vir hulle die weg gebaan om tot die Vader te nader en Hy baan vir ons dieselfde weg. Kom ons verbind onsself opnuut weer daartoe om vas te hou aan die geloof in Jesus wat ons bely. Kom ons onthou dat Hy wat verlossing beloof altyd getrou bly, al is die lewe hoe moeilik. Hoe wonderlik is dit nie dat ons nie na ander maniere hoef te soek om tot God te nader nie. Jesus is ons enigste Middelaar en groot Hoofpriester. Ons word genooi om ons te wend na die Een wat begrip het vir ons swakhede, die Een wat barmhartigheid en genade betoon sodat ons op die regte tyd gehelp kan word.

Dag 1Dag 3

Aangaande hierdie leesplan

Jesus, Ons Groot Hoofpriester

Die meeste van ons is nie vertroud met die rol van ʼn hoofpriester nie, so wanneer Jesus so beskryf word in die Woord kyk ons dit maklik mis – dit is net nog een van sy vele titels. Godfrey Mmagawo sien dit egter heeltema...

More

Ons wil graag in Harmonie bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.inharmonie.co.za/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid