Leesplan inligting

Wysheid vir die ToekomsVoorbeeld

Wysheid vir die Toekoms

DAG 3 VAN 5

Vraag 3: Hoekom wil jy dit hê?

Jou kinders, indien jy kinders het, het seker ook deur die fase gegaan waar hulle eerste reaksie op wat jy ook al gesê het altyd “Hoekom ...?” was. Dit het jou later dalk geïrriteer, maar ons kan eintlik iets leer van kinders wat voortdurend “Hoekom?” vra. Om die waarheid te sê moet mens nooit ophou om “Hoekom?” te vra nie, want dis die enigste manier om probleem-oplossende kreatiwiteit en Goddelike wysheid te bekom. Die kwaliteit van ons vrae bepaal die kwaliteit van ons lewens, so ons moet leer om dieper in ons siele te delf en ons oop te stel vir nuwe openbarings van God wat ware verandering kan teweegbring. Om “diep na te dink” het niks met ouderdom, opvoeding of intelligensie te doen nie. Elke mens wat waarlik na God soek, kan ʼn diep denker wees.

Noudat jy jou afgevra het wat jy graag wil hê, kan jy aanbeweeg na die derde vraag toe en dit is hoekom jy dit graag wil hê. Gee soveel besonderhede in jou antwoord as moontlik om die kreatiewe proses van probleemoplossing aan die gang te sit. Dit mag dalk ʼn rukkie neem om jou hoekom-rede te bepaal. Moenie haastig wees nie. Vertrou dat die Heilige Gees aan jou sal openbaar wat regtig in jou hart aangaan.

Terwyl jy jou redes formuleer vir hoekom jy graag wil hê wat jy wil hê, kan God reeds jou negatiewe, slagoffer-ingesteldheid begin verskuif na ʼn baie meer opwindende en wyer sielspasie waarin nuwe moontlikhede rakende jou situasie aan die lig kan kom. Maak notas van wat God vir jou wys. Het jy dalk enige motiewe of begeertes ontdek waarvan jy tot nou toe salig onbewus was?

As jy elke droom, behoefte, begeerte en alles waarvoor jy hoop aan God bekendgemaak het, beloof Hy in Filippense 4:6-7 dat sy vrede sal waghou oor jou hart en verstand. Laat hierdie belofte jou bemoedig as jy dalk huiwerig is om jou hart met God te deel omdat jy bang is om jou diepste seer uit te spreek. Laat hierdie versekering dat Hy jou hart en verstand sal beskerm jou die moed gee om alles met Hom te deel. Vertrou dat jou drome ook ʼn realiteit kan word as jy jou diepste begeertes uitspel. Om jou hoekom-redes te verwoord, maak baie keer jou verstand oop om oplossings, wat jy voorheen heeltemal misgekyk het of nie eens sou oorweeg het nie, raak te sien. Hierdie is nie ʼn oefening om positief te dink nie en is vir seker ook nie toorkuns nie. Dit is bloot ʼn manier om wysheid vir die toekoms in te win deur meer effektief te dink. As teleurstellings uit die verlede jou verhoed om te droom of om jou diepste begeertes hardop te erken, moet jy God toelaat om jou denke in hierdie opsig te verander.

God het jou geskep met die regte begeertes in jou hart vir wonderlike verhoudings, hoër vlakke van leer en die vervulling van jou potensiaal: oorvloedige lewe. Raak ontslae van verslaenheid. Ongeag wat jou uitdagings is, begin om jou diepste begeertes met jou hemelse Vader te deel. Vertel vir Hom hoekom jy wil hê wat jy graag wil hê. En wees dan gereed om verras te word deur die ongelooflike goed wat Hy in jou lewe gaan doen.

Dag 2Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

Wysheid vir die Toekoms

Staar jy ʼn moeilike uitdaging in die gesig? Is daar ʼn doelwit wat jy graag wil nastreef, maar jy voel asof jy vasgeval het? Geen opsies? Onseker oor jou volgende stap? In hierdie inspirerende leesplan ondersoek Jean Symo...

More

Ons wil graag Doxa Deo bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.doxadeo.org/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid