Leesplan inligting

Dis Tyd Vir FokusVoorbeeld

Dis Tyd Vir Fokus

DAG 7 VAN 7

Almal weet alles

Efesiërs 6:12-17 “Trek daarom die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil..." (Vers13). “Bly dan op julle pos, toegerus met die waarheid as gordel om julle heupe, die vryspraak deur God as borsharnas, en die bereidheid om die evangelie van vrede te verkondig as skoene aan die voete. Daarby moet julle altyd geloof as skild in die hand hê ...” (Verse14-16a).

Na ‘n welkome breek net anderdag, is ek terug op my pos. Op dag een veroorsaak my e-pos in-mandjie die eerste skewe plooi op my voorkop. ‘n Klagte en opinie. Ek besluit — ek gaan nie my vrede laat steel nie.

En toe nóg skrywes, meeste van mede-“besorgdes” ... en elkeen glo hul opinie is korrek aangaande ‘n politieke saak wat aangespreek moet word. Persoonlike aannames word deesdae aanvaar as waarheid en word voor jou virtuele drumpel afgelewer.

Soos ek vandag hier sit, is my hart tot oorlopens toe aan die bloei vir ons land; die mensdom se “eie ek”, die oëverblindery van hoe waarheid (of wat jy dink die waarheid is), reeds verlep, vóór jou vertrap word. Elkeen verdwaald in hul eie idees van hoe dinge moet afspeel. Ek het amper weer rus nodig! Soveel modder word in alle rigtings geslinger en die hande van diesulkes word omhoog gehou en sommige nogals geleerd volgens menslike standaarde. Verskeie ook maar erg besmeerd.

Dit daar gelaat. Die punt is: is alles wat goed is, alles wat skoon is, alles wat (veronderstel) om rein te wees, is dit dan net mooi niks werd nie? So lyk dit. Om op te staan en ‘n standpunt in te neem met die Woord in hand is ‘n gewaagde stap.

Ek bewonder enigiemand wat skaamteloos en broos hul passie deel. En dan kom die “geleerdes” en beoordeel. Geleerd, geëerd, dalk nog verkeerd? Dalk is al die absurditeit om ons net een walglike droom.

Intussen kies ek om ‘n dik valhelm op te sit naamlik verlossing, ‘n dik-breë swartbelt van waarheid wat vry maak, ‘n gepantserde baadjie oor my ribbekas, diksool-stewels wat vrede intrap waar ek gaan. In my een hand nie ‘n rewolwer nie maar ‘n skild wat beskerm en in die ander hand daardie einste wapen wat deur baie mense eenkant gegooi word – die swaard van waarheid, die Woord van God!

Jakobus het nie verniet gesê: “Onderwerp julle dan aan God. Staan die duiwel teë en hy sal van julle af wegvlug” nie. (Jakobus 4:7)

Ek kom tot die slotsom dat ek tot net mooi niks in staat is in my eie kragte nie.

Gebed: Voor U Heer buig ek my knieë met u skild as beskerming. Ek wil en sal my wapenrusting aantrek sodat die wêreld kan sien dat U oorwin! Ek sal bly staan ongeag wat om my gebeur en wie wat sê. Ek sal my oë op U gefokus hou.

Net jy kan besluit waarvoor jy jou ore uitleen selfs al is baie dinge naby aan jou lyf en toekoms. Met ons God egter, wie kan ons keer om sy Naam te verhoog en te vertrou? Ons het nie tot hier gekom om net tot hier te kom nie!

Dag 6

Aangaande hierdie leesplan

Dis Tyd Vir Fokus

Soms kan mens se gedagtes by vele dinge gaan stilstaan ... die lewe in die algemeen en waar jy jou bevind, familie, werk en allerlei ander dinge. Mens verloor jou fokus.Tog is daar 'n berusting wat ontstaan as jy God toe...

More

Ons wil graag vir Felicia Lategan bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir verdere inligting, besoek asseblief: https://whitevapor.wordpress.com/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid