Leesplan inligting

Here, Ek Wil Hoor!Voorbeeld

Here, Ek Wil Hoor!

DAG 3 VAN 7

DAG 3 Geloof en gehoorsaamheid

"Maar Hy sê: 'Nog meer bevoorreg is hulle wat die woord van God hoor en dit onderhou'” (Lukas 11:28).

Om God se stem te kan hoor, moet ek en jy glo en gehoorsaam wees aan sy Woord.

Dink maar byvoorbeeld aan jou eie kinders. As hulle nie glo jy het hul beste belange op die hart nie, sal hul ook nie na jou luister en die huisreëls wil nakom nie. Maar as jou kind weet jy het hom lief net soos hy is — ongeag sy foute — sal hy mos gehoorsaam wees as jy sê hy moet huistakies doen of hy moet saans tienuur by die huis wees. Hy sal weet en verstaan jy wil hom beskerm en goeie gewoontes leer. Daarom sal hy luister as jy praat.

Dit geld soveel te meer vir God. Hy sê in Deuternomium 5:9: “… Ek die Here jou God eis onverdeelde trou aan My.” God praat hier met sy volk en verbied hulle om iets te maak of te bou wat hulle sou kon gebruik om Hom te aanbid. Johannes 4:24 verduidelik hierdie sin van God vir my so treffend: “God is Gees, en dié wat Hom aanbid, moet Hom deur die Gees en in waarheid aanbid.” Die Amplified Bible praat van God se Gees as "die Bron van lewe, alhoewel Hy onsigbaar is vir die mens”.

Om God te aanbid, het ons nie plekke en beelde nodig nie. Ons hoef nie rituele uit te voer om te wys ons dien Hom nie. Om God in waarheid te aanbid beteken dat jy God se Woord en die hele Evangelie van Jesus Christus glo. Dit beteken ook dat jy heeltemal ontbloot voor God kom staan, want jy weet jy kan niks vir Hom wegsteek nie. Jy hoef niks voor te gee nie. God is Gees en al kan jy Hom nie sien nie, kan jy weet Hy is binne-in jou en weet alles van jou af.

God wil net die beste vir my en jou hê. Hy het ons lief ongeag ons sonde en tekortkominge. Hy het dan sy enigste Seun gegee sodat ek en jy vrygespreek kan wees.

Glo en wees gehoorsaam aan God. Jy sal dan vir seker sy stem uitken.

Gebed: My Hemelvader, versterk asseblief my geloof in U en help my om gehoorsaam te bly aan u Woord. Amen.

Dag 2Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

Here, Ek Wil Hoor!

Ons raak gou paniekerig wanneer ons verkeerde besluite geneem het. Soms voel dit mos net of jou lewe uitmekaar val. Ander kere is jy weer so besig dat jy nie meer weet hoe om God te vra vir hulp nie. Kom blaai hierdie we...

More

Ons wil graag Sonja Goldberg bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://www.sonjagoldberg.co.za

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid