Leesplan inligting

Spreuke: Die Waarde Van WysheidVoorbeeld

Spreuke: Die Waarde Van Wysheid

DAG 5 VAN 8

Geld, geld, geld ...

Ons sê dikwels dat geld die wortel van alle kwaad is. Maar dit is nie regtig wat die Bybel sê nie. 1 Timoteus 6:10 sê dat die liefde vir geld (nie geld op sigself nie) die wortel is van alle soorte kwaad. Geld self is dus nie die probleem nie, maar ons houding daarteenoor kan ’n probleem wees. Spreuke leer ons beginsels wat sal verseker dat ons verhouding met geld gesond en wys is.

Die tekste in Spreuke oor geld kan in drie kategorieë verdeel word: die probleem, die geleentheid en die balans van geld.

Die grootse probleme oor geld waaroor Spreuke ons waarsku, is ons dat geld ons nooit waarlik gelukkig kan maak nie (Spreuke 15:16), dat geld nie naastenby die belangrikste ding in die lewe is nie (Spreuke 11:4) en dat geld verslawend is – ’n probleem wat na ander probleme lei soos ontevredenheid en oneerlikheid (Spreuke 21:6).

Spreuke wys ons ook op iets goeds rondom geld: Die geleentheid om God te vereer (Spreuke 14:31; 19:17). God beveel ons om ons voorregte te gebruik om ander te seën. Spreuke is baie positief daaroor dat God ons sal seën as ons vrygewig leef en vir ander sorg. Ons moet egter onthou dat daardie “seën” groter as geld is. Dit het ’n invloed op ons lewensgeluk en ons groei as mense wat nie verslaaf is aan geld of vertrou op ons besittings nie.

Spreuke gee vir ons praktiese riglyne om die fyn balans tussen die goed en sleg van geld te kan handhaaf. Eerstens: Vrygewigheid. Dít help my om in balans te leef met geld. Wanneer ek gee, word ek daaraan herinner dat die lewe nie gaan oor die opgaar van geld nie. My geld is ’n middel waarmee ek iets belangriks kan doen. Vrygewigheid oorwin ook die verslawing van ontevrede wees met wat ek het – hoe meer vrygewig ek leef, hoe meer is ek bewus van ander se behoeftes. Hoe meer besef ek hoe bevoorreg ek is.

Om na te dink waarop ons ons geld uitgee, is ook belangrik. Ons moet kyk dat dit waarop ons ons geld uitgee dinge is wat ewige waarde tot ons lewens toevoeg en nie net ongesonde gewoontes voed of ons ego streel nie.

Geduld en harde werk is die laaste beginsel vir balans. Daar bestaan nie iets soos vinnig ryk word nie – as dit te goed lyk om waar te wees, kan jy weet daar is 'n fout (vergelyk Spreuke 28:20). Die soort rykdom wat ’n seën sal wees, kom deur harde werk. Hierdie beginsels sal jou help om die geld wat God vir jou gee te besit sonder dat dit jou ooit sal besit.

God seën jou elke dag. Moenie dat die wêreld jou oortuig dat jy eers ’n goeie lewe sal hê wanneer jy meer geld het nie. Geniet die gawes van God en maak ’n verskil daarmee.

Dag 4Dag 6

Aangaande hierdie leesplan

Spreuke: Die Waarde Van Wysheid

Het jou woorde jou al in die moeilikheid laat beland? Bekommer jy jou oor finansies? Voel jy asof jou werk sinneloos is? Hoe beïnvloed jou vriende jou? Oor die volgende ag dae deel Francois Lamprecht beginsels uit die bo...

More

Ons wil graag vir Pellissier Gemeente bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://ngkerkpellissier.co.za/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid