Leesplan inligting

Spreuke: Die Waarde Van WysheidVoorbeeld

Spreuke: Die Waarde Van Wysheid

DAG 1 VAN 8

Die waarde van wysheid

Spreuke, Prediker en Job staan bekend as die Bybel se wysheidsliteratuur. Hierdie boeke het ’n baie spesifieke doel: om my te leer hoe om die lewe met die wysheid van God aan te pak. Ons fokus hier op Spreuke, maar ek wil jou aanmoedig om ook die ander twee wysheidsboeke te gaan lees.

Die Bybel is nie ’n boek wat maak asof daar geen vrae is nie. Inteendeel, elke boek in die Bybel worstel met een of ander aspek van ons menswees – verhoudinge wat skeefloop, teleurgestelde toekomsverwagtinge, ons sterflikheid, die stryd om soms net te oorleef – en geen boek doen dit meer as die wysheidsliteratuur nie.

Die wêreld waarin ons leef, is elke dag besig om vir ons te sê wat waarde het: Koop dit, dra dat, ry dit, dink só, bly daar, kyk dit, eet dit, soek daardie ... dis alles ’n groot kompetisie. Maar Spreuke sê vir ons hier is iets met meer waarde as dit alles ... Nie iets wat jy koop of dra of eet nie, maar ’n leefwyse. Spreuke 3:16-18 verduidelik ook die waarde van wysheid; dit gee ’n lang lewe, dit bring rykdom en eer, maar die belangrikste van alles: Dit gee ’n vol lewe. Dit is ook nie net ’n eenmalige gebeurtenis nie, dit is ’n bron van lewe. Dit hou aan om meer en meer nuwe lewe te gee.

Spreuke 3:19-20 bring ook nog ’n eienskap van wysheid na vore: Krag. Dit verwys na God se skeppingswerk en sê God het wysheid gebruik om dit uit te voer. Wysheid is dus nie net voordelig nie; dis kragtig. Al hierdie voordele, waarde en krag is tot ons beskikking in die wysheid wat God vir ons wil gee.

Elke deel van God se Woord is aan ons gegee om uit te leef. Spreuke is beslis nie net ’n boek vir jou studeerkamer of op ’n Sondag in die kerk nie. Dit is ’n boek vir die straat, vir jou kantoor, daar waar jy leef en werk en beweeg. Dit is die praktiese wysheid van God om jou lewe in pas met God te bring.

Gryp hierdie wysheid aan!

Dag 2

Aangaande hierdie leesplan

Spreuke: Die Waarde Van Wysheid

Het jou woorde jou al in die moeilikheid laat beland? Bekommer jy jou oor finansies? Voel jy asof jou werk sinneloos is? Hoe beïnvloed jou vriende jou? Oor die volgende ag dae deel Francois Lamprecht beginsels uit die bo...

More

Ons wil graag vir Pellissier Gemeente bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://ngkerkpellissier.co.za/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid